As die vyfde en laaste deel van sy sirkelroete op ’n fiets om Suid-Afrika, vertrek Ben Nortje saam met sy broer, Andre, eersdaags ál trappend van Upington na Kaapstad om geld vir ’n negejarige met Downsindroom se spraakterapie in te samel.
Ben (40), van Ellisras, en ouboet Andre (42) van Kathu beoog om op Dinsdag 22 Maart van die Oranjerus-oord by Upington te vertrek.
Omdat Ben op sy roetes so na as moontlik aan die landsgrens wil ry, ry hulle van Upington via Kakamas, Pofadder, Aggeneys en Springbok tot in Kleinzee.
Van daar ry hulle met die minder bekende roete al langs die Weskus – deur Hondeklipbaai, Lepelsfontein, Strandfontein, Elandsbaai en Yzerfontein tot in Kaapstad.
Ben sê volgens beplanning behoort hulle teen 1 April in Kaapstad aan te kom, ongeveer 1 098 km later.
Die vorige roetes wat Ben ten bate van Jayden Viviers gery het, het gestrek van Port Elizabeth tot in Kaapstad in 2018, Ellisras tot in Upington (2019), Ellisras tot in Durban (2020) en Port Elizabeth tot in Durban (2021). Ben het die vier roetes heeltemal alleen gery, selfs sonder ’n ondersteuningsvoertuig.
Onvoorspelbare weersomstandighede bly altyd ’n uitdaging, sê hy.
“Soms raak ’n mens die pad byster en ry dan ’n onbeplande 40 km of wat ekstra vir die dag.”
Die mees uitdagende roete waarlangs hy al gery het, is die een deur die Oos-Kaap. Benewens opdraandes en uiters slegte sekondêre paaie wat uitdagings gebied het, is hy daar beroof. Ander struikelblokke wat hy op die pad kan ervaar, soos ’n fiets-onderdeel wat breek, hanteer hy soos dit gebeur.
Ben sien daarna uit om sy broer as geselskap op die laaste deel van sy roete te hê.
“Ek voel effens senuweeagtig, maar opgewonde,” sê Andre, werksaam by die Sishen-myn.
“Hoewel ek al aan fietsrenne deelgeneem het, het ek dit nog nooit so dag ná dag ná dag gedoen nie. Maar ek sien uit na hierdie avontuur saam met my broer.”
Die roete is reeds beplan. Hoewel hulle vir heelwat aande verblyf het, gaan die tent steeds saam indien die onvoorsiene gebeur.
Ben, wat in ’n beheerkamer by die Grootegeluk-steenkoolmyn werk, verkies om in Maart te ry wanneer die weer meer gematig is.
Hy doen “fietsry vir die lekkerte” en het al vantevore die Kaapstad-fietstoer (voorheen die Cape Argus) gery, en ook die 94.7-fietsren.
Dit is juis tydens deelname aan die 94.7 dat hy van die Brain Child Fund (BCF) gehoor het. Dit is ’n nie-winsgewende organisasie wat gesinne waarin ’n kind met spesiale behoeftes is, onderrig om met so ’n kind die pad vorentoe te loop.
Ben het sy belangstelling daarin om by geldinsameling betrokke te raak vir iemand wat hulp nodig het aan die BCF genoem en so het hy met Jayden en sy enkelouerma, Valencia, van Lydenburg in kontak gekom. Ben het Jayden in Maart 2020 die eerste keer ontmoet toe hy op sy fietstoer deur Lydenburg gery het.
Met die eerste roete wat Ben in 2018 onder die vaandel van die BCF gedoen het, is geld ingesamel sodat Jayden se familie deur ’n opleidingsprogram van die Family Hope Center ’n begrip vir hul unieke uitdagings kon kry, en ook raad oor hoe om dit te hanteer.
Vir die roetes daarna is ’n fonds vir Jayden gestig. Mediese koste word direk uit die fonds betaal. Die spraakterapie waarvoor die Nortje-broers geld insamel, word ook direk daaruit betaal.
Ben sal weer gereeld plasings van sy vordering op onder meer Facebook plaas.
Wat hy volgende aanpak, weet hy nog nie, maar hy is oortuig dat ’n geleentheid weer op sy pad sal kom.
- Besoek die Facebook-blad 1000 km vir Jayden en ook backabuddy.co.za/jayden-viviers.