Siyabonga Frane in die getuiebank.

Foto: Charné Kemp

’n Broer van een van die beskuldigdes in die opspraakwekkende moordsaak waarin drie lede van die Brand-gesin van Hartswater grusaam vermoor is, het haar glo gewaarsku dat die mense met wie sy meng net “probleme” kan veroorsaak.

Dit was ’n dag nadat die Brand-gesin op 26 Julie 2020 van hul kleinhoewe vermis geraak het. Die staat voer aan die aangeklaagdes het vir Daniel Petrus (Dan) Brand, sy vrou Hybrecht Elizabeth (Breggie) en hul dogter Elizabeth Margaretha (Elzabie) Brand vanaf ’n perseel in Mogogong in Hartswater aangerand, ontvoer en vermoor. Die Brand-gesin is die dag die laaste keer omstreeks 12:00 by hul huis opgemerk.

Die volgende dag is hulle as vermis aangemeld en is opgemerk dat verskeie besittings en twee motors, ’n rooi Nissan Micra en ’n silwer Mazda 5, gesteel is.

Daardie nag en volgende dag het die polisie hul lyke en die voertuie op verskillende naby Taung gevind en die verdagtes in hegtenis geneem.

Donald Seoleseng (21) en Tshepo Visagie (36), albei van Majaneng; Kgomotso Mpulwana (43) van Rooivaal; en Tsepaone Melato (20) van Pudimoe word aangekla van drie aanklagte elk van moord, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en regsverydeling.

Die aangeklaagdes word van regsverydeling aangekla omdat hulle die lyke in Taung versteek het om die moord te verdoesel. Seoleseng word ook van ontsnapping aangekla. Visagie het na bewering ’n skootrekenaar en selfoon wat aan die oorledenes behoort het, verpand. Realeboga Manyedi (20) wat ook aangekla was, het ’n staatsgetuie geword.

Maandag (12/12) het Siyabonga Frane, broer van Mpulwana, in die hooggeregshof in Kimberley getuig. Seoleseng is sy niggie se seun en hy ken vir Visagie. Op 27 Julie 2020 was hy en Mpulwane omstreeks 10:00 besig om die erf skoon te maak toe ’n silwer Mazda 5-voertuig by die huis stilhou. Mpulwana het ’n ruk met die mans gepraat voordat hulle gery het.

Ná twee uur was hulle terug, en dié keer het Mpulwana saam met hulle weggery. Hulle sou glo varke by ’n neef gaan haal. Met hul terugkeer het sy suster die motor bestuur en gesê hulle gaan na ’n ander woonbuurt.

“Sy het gesê ek mag haar nie kruisondervra oor die mans saam met haar nie. Hulle is soos familie vir haar. Ek het geantwoord familie verskyn net as daar probleme is, nie as dit voorspoedig gaan nie.”
Siyabonga Frane

Sy suster het gery om haar kinders op te laai en hy het haar nie weer gesien nie. Later die aand het hy en sy ander broer vir Seoleseng op hul sitkamerbank aangetref.

Volgens die vroeëre getuienis van kapt. Johannes Etsebeth het Seoleseng vroeër die aand uit die honde-eenheid se voertuig ontsnap waarin hy toegemaak is. Dit was naby die toneel waar die lyk van Breggie Brand in ’n watergat gevind is. Roelof van Wyk het namens Seoleseng aangevoer dat sy kliënt vir sy lewe gevrees en daarom ontsnap het.

Frane en sy broer het Seoleseng steeds geboei in hul sitkamer gevind, sy gesig was glo weens aanranding geswel en daar was bloed op sy Covid-19-masker.

Hy het vertel hy en sy metgeselle is naby die Podimoe-kruising met die N18-roete in hegtenis geneem, maar hy het niks oor Mpulwana se bewegings gesê nie.

Die polisie het hulle aangekeer omdat hulle “wit mense se kar gevat het”.

Hulle was glo op pad om die kar te verkoop. Frane se broer het die polisie gebel wat Seoleseng in hegtenis geneem het en waarna die twee broers verklarings afgelê het.

Later het die lede weer opgedaag om ’n skootrekenaar en selfone in Mpulwane se kamer te kom haal.

Die Saterdag daarna het Frane ID-kaarte, bestuurslisensies van die Brand-gesinslede en inkopiekaarte bo-op ’n hangkas in die gastekamer ontdek en die polisie ontbied.

Adv. Celeste Nameka het in kruisondervraging namens Mpulwana aangevoer dat haar kliënt die skootrekenaar en selfone namens die beskuldigdes by ’n kragpunt in haar huis herlaai het. Sy kan ook nie die huis vir lang tye verlaat nie omdat sy na vier kinders en ’n siek tante omsien.

Die verhoor duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article