’n Broer van een van die beskuldigdes in die moordsaak waarin drie lede van die Brand-gesin van Hartswater vermoor is, het haar glo gewaarsku dat die mense met wie sy meng net “probleme” kan veroorsaak.
Dit was ’n dag nadat die Brand-gesin op 26 Julie 2020 vermis geraak het. Die staat voer aan die aangeklaagdes het Dan Brand, sy vrou, Breggie, en hul dogter Elzabie vanaf ’n perseel in Magogong in Hartswater aangerand, ontvoer en vermoor. Die gesin is die laaste keer op die betrokke dag omstreeks 12:00 by hul huis opgemerk. Die volgende dag is hulle as vermis aangemeld en is gevind dat verskeie besittings en twee motors, ’n rooi Nissan Micra en ’n silwer Mazda 5, gesteel is.
Daardie nag en volgende dag het die polisie hul lyke en die voertuie op verskillende plekke naby Taung gevind en die verdagtes in hegtenis geneem. Donald Seoleseng (21) en Tshepo Visagie (36), albei van Majaneng; Kgomotso Mpulwana (43) van Rooivaal; en Tsepaone Melato (20) van Pudimoe word deur drie aanklagte elk van moord, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en regsverydeling in die gesig gestaar. Seoleseng word ook van ontsnapping aangekla. Visagie het na bewering ’n skootrekenaar en selfoon wat aan die oorledenes behoort het, verpand.
Realeboga Manyedi (20) het ’n staatsgetuie geword.
Maandag (12/12) het Siyabonga Frane, broer van Mpulwana, in die hooggeregshof in Kimberley getuig.
Op 27 Julie 2020 was hy en Mpulwane omstreeks 10:00 besig op die erf toe ’n silwer Mazda 5-voertuig by die huis stilhou. Mpulwana het met die mans gepraat voordat hulle gery het. Ná twee uur was hulle terug, en Mpulwana het saam met hulle gery. Hulle sou glo varke gaan haal. Met hul terugkeer het sy suster die motor bestuur en gesê hulle gaan na ’n ander woonbuurt.
“Sy het gesê ek mag haar nie kruisondervra oor die mans saam met haar nie. Hulle is soos familie vir haar. Ek het geantwoord familie verskyn net as daar probleme is, nie as dit voorspoedig gaan nie.”
Sy suster het gery. Later die aand het hy en sy broer Seoleseng op hul sitkamerbank aangetref. Volgens vroeëre getuienis het Seoleseng uit die honde-eenheid se voertuig ontsnap. Frane en sy broer het Seoleseng steeds geboei gevind.
Hy het vertel hy en sy metgeselle is naby die Pudimoe-kruising in hegtenis geneem omdat hulle “wit mense se kar gevat het”.
Frane se broer het die polisie gebel wat Seoleseng in hegtenis geneem het, waarna die broers verklarings afgelê het. Later het die polisie ’n skootrekenaar en selfone in Mpulwana se kamer kom haal.
Die Saterdag daarna het Frane ID-kaarte, bestuurslisensies van die Brand-gesin en inkopiekaarte bo-op ’n hangkas ontdek en die polisie ontbied. Die verhoor duur voort.


