Die polisie in Postmasburg het ’n geregtelike doodsondersoek begin nadat ’n broer en suster, Christopher (10) en Christolene Madebe (8), Saterdag (03/09) in ’n opgaardam by die ongebruikte Wes-einde-diamantmyn verdrink het.

AO Nomvuyo Makoloi, polisiewoordvoerder, sê luidens die voorlopige ondersoek het drie minderjariges hier geswem toe die voorval omstreeks 13:45 gebeur het. Die ouer seun wat saam met die Madebe-kinders geswem het, kon uit die dam kom en hulp ontbied.

Volgens ’n Postmasburg-buurtwaglid het die kinders glo in die dam gespring en die koue water was ’n skok. Die twee jongeres het glo gesukkel en begin sink. Die ouer seun het die meisie uit die water gehaal en toe hulp gaan soek.

Sy was glo toe reeds dood. Haar broer se lyk is van die bodem van die dam uitgeduik. Die polisie en Netcare 911 was ook op die toneel.

Die dam is omtrent 1,6 m diep, met ’n watertemperatuur van sowat 10 °C of kouer.

Die myn is sedert Maart tydelik buite werking. Volgens die buurtwaglid is die diefstal van draadheinings ’n groot probleem en die kinders het toegang tot die perseel verkry weens heinings wat gesteel is.

Marna van Zyl, DA-raadslid in die Tsantsabane-munisipaliteit, sê aangesien die myn in die dorp is en langs ’n informele nedersetting, is dit van kritieke belang dat aan alle voorgeskrewe regulasies voldoen word om die veiligheid van lede van die omliggende gemeenskap te verseker.

Die party versoek die gemeenskap om ’n wakende oog oor kinders te hou.

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-parlementslid en die party se woordvoerder oor minerale bronne en energie, sê verlate myne moet beveilig word, maar diefstal en vandalisme veroorsaak dikwels dat die beveiliging ondoeltreffend raak.

Marita Herselman

You need to be Logged In to leave a comment.