Die Handwerk Engele met die groep se eerste bestaansjaarviering. Van links is, voor: Ilzé Strydom (voormalige VLV Volgende Voetspoor-lid) en Annette Groenewalt

Ná ’n eerste brei-in-die-openbaar-geleentheid ter ondersteuning van die dag World Wide Knit in Public, het dit ’n maandelikse instelling geword – en ’n groep vroue van Kuruman en omgewing brei gesellig en geesdriftig voort om ander te ondersteun.

Die Handwerk Engele het in Augustus hul 14de byeenkoms aangebied. Dié groep het 36 lede; 18 is lid van die Kuruman-tak van die Vrouelandbou-vereniging (VLV).

Maryke Strydom, ook ’n lid, het op 10 Junie 2023 die eerste keer ’n brei-in-die-openbaar-geleentheid by die Rostili-restaurant aangebied. Dit was ’n reuse-sukses, en die vroue het aangedring dat dit gereeld plaasvind. Só het dit ’n instelling geword om saam by Rostili te brei.

Eers was dié saambreiery net vir plesier en het elkeen aan ’n eie projek gewerk. Verlede jaar, kort voor Borskankerbewustheidsmaand, het die groep besluit om pienk musse of kopbande vir vroue met borskanker te brei. Wyle Mard-Mari Nortjé, wat behandeling vir borskanker in Tygerberg ontvang het, het dit saamgeneem en uitgedeel. Sedertdien is breigoed drie keer daarheen gestuur.

Die Handwerk Engele het by All Star Models betrokke geraak, wat ’n projek bedryf wat baadjies, mussies, kouse, komberse en meer vir premature babas insamel. Die Handwerk Enge­le het al talle kere baadjies en mussies gebrei.

Betrokkenes by die Bringing Back Hope Center (BBH) in Wrenchville met van die musse, serpe, handskoene en komberse wat deur die Handwerk Engele geskenk is. Van links is, voor: Kao Mompati, Daniel van Blerk en Goitsemodimo Januarie; agter: Razaak Jalal, Milla Januarie (BBH), Tlotso Phiri, past. Arno Janse van Rensburg (jeugpastoor by Lewende Woord Kuruman) en David Banda.

Elke maand word ’n liefdadigheidsprojek ondersteun, en hiermee saam is die groep dankbaar vir wolskenkings.

Vanjaar is onder meer handskoene, musse, serpe en beertjies vir kinders in hospitale gebrei, asook vroetelmoue vir mense met Alzheimer se siekte. Die groep het ook breigoed aan die Bringing Back Hope-sentrum in Wrenchville geskenk as deel van ’n uitreik-projek deur die Lewende Woord-bediening Kuruman. ’n Deur­lopende kombersprojek bestaan vir premature babas, kankerpasiënte en ouetehuise. Strydom het in Mei 2023 die ATKV-tak Arendsnes se hekelmarathon ondersteun vir komberse vir behoeftiges.

Die volgende brei-in-die-openbaar-byeenkoms is op Saterdag 14 September.

Verwerk, Helena Barnard

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article