Bertrand Russel, ’n Engelse filosoof, het een keer gesê: “Die beste bewys dat iets bereik kan word, is die feit dat ander dit reeds reggekry het.”

Die beginpunt om iets merkwaardiger te bereik, is om weg te breek van daardie gedagtes wat jou gebind hou.

Wanneer jy alleen hardloop, hardloop jy vinnig. Wanneer jy saam met iemand hardloop, hardloop jy ver.

Geen mens sal ooit iets groots alleen bereik nie. Wil jy werklik alleen hardloop?

Jou keuse is, hardloop jy alleen om vinnig te hardloop of saam met iemand om ver te hardloop?

Met die eerste oogopslag sal jy sê: “Ek wil vinnig hardloop”.

Ons almal wil vinniger daar kom. Ons wil almal die duurste kar ry, die mooiste huis besit, skool klaar maak, graad vang en ryk word – vinnig!

Ons wil nie nog met jou, julle of hulle langs die pad sukkel nie.

Wanneer ons egter saam met iemand hardloop, raak daai gesukkel ’n spanpoging.

’n Lekkerkry, saam swaarkry. Mekaar optel, motiveer, bemoedig en selfs mekaar dra – om verder te kom in die lewe.

Die lewe is waarlik by tye swaar en seer.

Wanneer jy kyk na jou lewe sien jy klomp uitdagings, terugslae en tye waar jy self langs die pad jou knieë nerfaf geval het.

Die goeie nuus is egter dat rondom ons mense leef met wie dit nóg swaarder gaan en miljoene ander het dit nog slegter as jy, maar hulle het daardie struikelblokke oorkom en jy kan ook.

Soos jy dan hardloop op jou eie of saam met iemand, onthou die volgende: Saai ’n gedagte en jy maai ’n aksie.

Saai ’n aksie en jy maai ’n gewoonte.

Saai ’n gewoonte en maai ’n karakter.

Saai ’n karakter en jy maai ’n bestemming.

Net jy alleen bepaal jou eie eindpunt, jou lot.

My vraag egter is, wil jy vinnig hardloop of wil jy ver hardloop of . . . wil jy net hardloop?

Sien jou by die eindpunt. – Edward Smit

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article