‘n Infrastruktuurspan van die Noord-Kaapse departement van onderwys is reeds op die toneel om die skade te bepaal, asook oor wat die volgende stap gaan wees.

Foto’s: Verskaf

‘n Hewige storm het Woensdagmiddag 2 November in Brandvlei geheers, en die skoolgebou beskadig.

Groot dele van die Laerskool Brandvlei se dak is afgeruk.

’n Hewige storm het op Woensdagmiddag 2 November groot skade aan die Laerskool Brandvlei in die Noord-Kaap aangerig.

Die storm het glo oor die hele dorp gewoed, en minstens ses klaskamers van die skool is beskadig. Groot dele van die skool se dak is onder meer afgeruk.

Geoffrey van der Merwe, mediawoordvoerder van die Noord-Kaapse departement van onderwys, het Donderdagoggend gesê die infrastruktuurspan is reeds op die terrein om die skade aan die skoolgebou te bepaal.

“Op hierdie stadium is ons bewus van ses klaskamers wat geraak word, waar die dak van die skoolgebou afgeruk is,” sê Van der Merwe.

Hy sê die departement sal onmiddellike hulp aan die skool verleen sodat leerlinge die skool se akademiese jaar kan voltooi.

Die skool het 550 leerlinge, en hul eksamens begin op 17 November.

“Dit is ‘n ongelukkige voorval en ons is dankbaar dat die storm buite skoolure plaasgevind het aangesien onderwysers en leerlinge moontlike ernstige beserings tydens die storm kon opdoen.”

Die departement sal ná die afhandeling van die infrastruktuurspan se assesseringsverslag bepaal wat die volgende stap sal wees.

  • Nog ’n Noord-Kaapse skool, die Hoërskool Garies, is op Saterdag 17 September byna deur ’n brand vernietig.

Van der Merwe het op 11 Oktober bevestig dat brandstigting die oorsaak van die verwoestende brand was wat 80% van die skool in puin gelê het..

“Forensiese ondersoeke deur die polisie het bevestig dat brandstigting die oorsaak is, en het aangedui dat die brand in drie verskillende dele van die skool begin is.

“Dit is vir die departement ’n bron van groot bekommernis: dat ’n skool vernietig word deur dieselfde gemeenskap wat dit dien,” het hy gesê.

Die departement kon met die eerste dag van die laaste skoolkwartaal vyf mobiele klaskamers aan die skool in Garies voorsien. Later is nog ses mobiele klaskamers, ’n administrasiegebou, toiletgeriewe, meubels en rekenaartoerustig ook verskaf om die laaste skoolkwartaal te voltooi.

Minstens ses klaskamers is deur die storm beskadig.

Stormskade aan die Laerskool Brandvlei.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article