Weiding van 110 000 ha is sedert die begin van verlede week tydens ses brande in ’n deel van die Noord-Kaap verwoes.
Dié ses brande het vir tien dae, vanaf Saterdag 21 Oktober tot Maandagaand 30 Oktober, verspreid tussen die Kuruman-, Daniëlskuil- en Kathu-omgewing in sterk wind gewoed.
Behalwe verliese van 160 koeie en kalwers, en groot wildsverliese wat nog bepaal word, het een persoon ligte brandwonde opgedoen, is ’n bakkie en ’n padskraper uitgebrand, en ’n huis beskadig. Groot skade aan infrastruktuur, wat omheinings en damme insluit, het voorgekom.
Kraglyne en -pale van Eskom is ook beskadig, en Kuruman was vanaf Saterdag 28 Oktober vir ongeveer 26 uur sonder elektrisiteit.
Johan Rossouw, rampbestuurder JTG-distriksambreelbrandbeskermingsvereniging (BBV), sê die brande is teen Maandagaand onder beheer gebring.
Hy sê die eerste brand op 21 Oktober het tussen Kuruman en Danïelskuil langs die R31-pad begin nadat ’n motorband vermoedelik gebars het. Die brand is die volgende dag geblus.
Die tweede brand het op 23 Oktober tussen Kathu en Hotazel ontstaan weens ’n vonk wat deur ’n trein veroorsaak is. Dié brand is eers op 30 Oktober geblus.
Die derde brand het op 27 Oktober vanuit die Lohatla-weermagbasis na aangrensende plase versprei, en is twee dae later geblus.
Weerlig het die vierde en vyfde brande op die aand van 27 Oktober veroorsaak, en het in die omgewing tussen Kuruman, Kathu, Deben, Hotazel, Black Rock en Van Zylsrus voorgekom. Dit is dieselfde aand teen ongeveer middernag geblus.
Die sesde brand het op 28 Oktober tussen Daniëlskuil en Koopmansfontein langs die R31-pad begin en is deur ’n sleepwa veroorsaak. Dié is twee dae later geblus.
Dean Espach van die RPU Response Team, en wie onder meer die uitdeel van kosskenkings aan die brandspanne koördineer het, bedank elke persoon en maatskappy wat kos en drinkgoed beskikbaar gestel het.
“Die mense veg ure aaneen teen die brande, en daardie kos en drinkgoed help hulle om aan te gaan,” sê hy.
Intussen het die DA Maandag ’n versoek aan die munisipale bestuurders van die Gamagara-, Ga-Segonyana-, Joe Morolong- en Kgatelopele-munisipaliteit gerig om dringend by Eskom aansoek te doen vir ’n tydelike beurtkragvrystelling vir minstens ’n week, sodat watertoevoer herstel en waterreserwes aangevul kan word.
Willie Aucamp, DA-LP, sê die gebrek aan elektrisiteit beteken dat water nie gepomp word nie, en reservoirs nie gevul kan word nie.
Die party het ook sy kommer oor die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se versuim om verantwoordelikheid te aanvaar vir brande wat op sy grond ontstaan, en om brandbane te skep en in brandbestrydingstoerusting te belê.
Eskom-werknemers het Maandag begin om die strukture te herbou of nuwe pale op te rig voordat die elektrisiteitstoevoer finaal herstel kan word. Herstelwerk word bemoeilik deur die terrein waar pale en lyne vervang moet word.
Espach versoek motoriste om stadiger en versigtiger te ry wanneer hulle ’n pad gebruik waar die rook van brande sigbaarheid verswak. Behalwe om die voertuigligte aan te skakel, is dit belangrik om nie na die verkeerde baan uit te swaai nie. Hy wys motoriste daarop dat brandbestryders dikwels langs die pad in die rook staan, besig om brande te blus.
Rossouw sê die brandbestrydingsaksies was baie goed georganiseerd deur die ses geregistreerde BBV in die distrik, waarvan grondeienaars lede is. Die koördinering is deur die JTG-distriksambreel BBV, met die plaaslike BBV en die Noord-Kaap-sambreel BBV uitgevoer.
Hy sê wanneer ’n brand ontstaan, tree die grondeienaars as eerste reaksie op, met die ondersteuning binne BBV-verband wat hulp verleen.
Ander rolspelers was die Noord-Kaap Rampbestuursentrum, departement bosbou en omgewingsake, grond- en lugsteunspanne van Working on Fire (WOF), die mynbou- en privaatsektor binne die distrik, JTG-distriksmunisipaliteit, die plaaslike munisipaliteite en Agri Noord-Kaap.
WOF het ook twee grondspanne vanaf die Noordwes-provinsie gestuur wat uit 44 mense en twee vragmotors bestaan het, asook vier grondspanne van die Vrystaat met 88 mense en vier vragmotors. ’n Vastevlerkvliegtuig vir verkenning en een helikopter is ook deur WOF beskikbaar gestel.




