‘n Polisielid van die honde-eenheid in Hartswater het Woensdag (07/09) in die hooggeregshof in Kimberley getuig oor hoe hy Dan en Breggie Brand en hul dogter Elzabie se vermiste motor op ‘n misdaadtoneel gevind en later ‘n vlugtende verdagte met sy polisiehond aangekeer het.
Meer as twee jaar ná die opspraakwekkende gru-moorde op die Brand-gesinslede van Hartswater, het die aangeklaagdes almal skuld op die aanklagte in die hooggeregshof in Kimberley ontken.
Die staat voer aan die aangeklaagdes het vir Daniel Petrus (Dan) Brand, sy vrou Hybrecht Elizabeth (Breggie) en hul dogter Elizabeth Margaretha (Elzabie) Brand op 26 Julie 2020 vanaf ’n perseel in Mogogong in Hartswater aangerand, ontvoer en vermoor.
Die Brand-gesin is die laaste keer op 26 Julie omstreeks 12:00 by hul huis opgemerk. Die volgende dag is gevind dat hulle vermis is en verskeie besittings en twee motors, ’n rooi Nissan Micra en ’n silwer Mazda 5, gesteel is.
Die beskuldigdes is Donald Seoleseng (21) en Tshepo Visagie (36), albei van Majaneng; Kgomotso Mpulwana (43) van Rooivaal; en Tsepaone Melato (20) van Pudimoe.
Hulle word aangekla van drie aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, drie aanklagte van ontvoering en drie aanklagte van regsverydeling. Seoleseng word ook van ontsnapping aangekla. Die aangeklaagdes word van regsverydeling aangekla omdat hulle die lyke in Taung versteek het om die moord te verdoesel. Visagie het na bewering op 26 Julie ’n skootrekenaar en selfoon wat aan die oorledenes behoort het, verpand.
Polisiehond trek verdagte plat
Konst. Harold Bok van die honde-eenheid het Woensdag getuig hy en sy kollega is twee dae ná die Brands se verdwyning na die Majaneng-nedersetting ontbied waar lede van die misdaadintelligensie-eenheid hulle ontmoet het.
Bok het toe reeds geweet dat vier verdagtes die vorige dag in hegtenis geneem is. Die polisielede het na ‘n sinkhuis gewys waar nog ‘n verdagte, ene Tsepo (Visagie) se meisie gebly het. Die meisie het glo ontken sy weet waar hy hom bevind. Dis toe dat iemand geskreeu het dat ‘n man weghardloop. Die man se kleredrag het ooreengestem met die beskrywing wat sy meisie gegee het.
Bok het ‘n ent gery, uitgeklim en die man se naam uitgeskreeu. Visagie het glo verbaas gehuiwer, maar verder gehardloop. Die polisieman kon sien dat die verdagte weg van hulle en die polisiehelikopter in die veld na die oorkant van die pad mik.
Dit is toe dat Bok die vlugtende verdagte etlike kere gewaarsku het hy moet stilstaan anders laat hy die polisiehond los. Visagie het oor ‘n draad gespring en Bok het die hond uit die voertuig gehaal.
Slegs 20 m verder het die hond vir Visagie platgetrek. Die verdagte is geboei en in die vangwa na die polisiekantoor geneem waar hy ingeboek is. Daarna is hy vir mediese behandeling geneem weens die bytwonde aan sy been.
Bok was die vorige dag ook by die oorledenes se huis waar hy die besonderhede van die twee vermiste voertuie afgeskryf het. Hy het ‘n berig ontvang van ‘n verlate motor in ‘n gruisgroef sowat 10 km vandaar.
Dit is waar hy die Brands se rooi voertuig met vier pap wiele gevind het. Eenkant het ‘n wiel en buffer gelê. Nadat die forensiese span die wiel omgekeer het, kon hy ‘n Mazda-embleem in die middel van die wiel sien. Die betrokke wiel, wat gebars was, sou te groot wees om op die Nissan te pas.
Buurman ontbied polisie
Vroeër het Stephan Benny, ‘n buurman, getuig dat hy op 27 Julie 2020 na die Brands se huis gegaan het omdat Heidi Taljaard, hul dogter, hulle nie in die hande kon kry nie. Sy het hom gevra om ondersoek in te stel.
Hy het getuig die twee voertuie was weg, en die huis se vensters en deure toe. Hy het die Brands sonder sukses probeer bel. Buitekant het hy ‘n hoed, ‘n bril, bebloede bakstene, bloedsleepmerke en ‘n plas bloed onder die motorafdak gesien. Op die agterdeur was daar bloedmerke.
Benny is in die huis in om na die oorledenes te soek. Hy het die polisie ontbied en Taljaard gebel om die voertuigregistrasienommers te kry. Die plaaswaglede het opgedaag en hulle het versigtig deur die huis gesoek, maar niemand gevind nie. Die buurvrou het genoem dat sy die vorige dag gesien het hoe die motors van die huis wegry.
Kapt. Tewie Pretorius was aan diens toe hy Benny se oproep ná 17:00 ontvang het. Pretorius het getuig dat hy dadelik na die perseel is.
Die buurtwaglede het probeer om die oorledenes se selfoonseine op te spoor, sonder sukses.
Verdagte doen uitwysing
Ná middernag is Pretorius na Taung ontbied waar ‘n verdagte glo ‘n uitwysing sou doen. Dit was Manyedi, die beskuldigde teen wie aanklagte teruggetrek is, wat die lede vrywillig na die “dogter” sou lei.
Na bewering was sy “lewendig toe hulle haar daar afgelaai het”.
Pretorius het saam met die lede en die verdagte sowat 100 m in ‘n oop veld geloop tot by ‘n kloof met oorhangende rotse by ‘n watergat.
Hulle het in die flitse se lig ‘n blou duvet gesien, en dat ‘n liggaam daarin versteek was onder klippe en takke. Nadat die forensiese span die duvet oopgemaak het, het hy gesien Elzabie se hande is vasgebind en ‘n tou is deur haar mond en agter haar kop geknoop.
Die verhoor duur voort.


