Die Trinity House in Kimberley wat groot skade tydens ‘n brand opgedoen het.

Foto: Helena Barnard

Die historiese Trinity House in Kimberley het geweldig baie skade opgedoen nadat ’n brand op die boonste verdieping uitgebreek het.

Volgens talle ingeligte bronne is die brand deur kwaaddoeners veroorsaak wat glo in die huis ingebreek het, en vuur op die houtvloer op die boonste verdieping gemaak het.

Die klein ruimte waardeur hulle Sondagnag 9 Junie ingekruip het nadat metaaldele oopgebuig is, versterk die vermoede dat dit straatkinders was.

Die historiese Trinity House in Kimberley het op Sondagaand 9 Junie skade opgedoen nadat ’n brand op die boonste verdieping uitgebreek het.

Trinity House was in vervloë dae die pastorie van die Trinity Metodistekerk in die middestad, en is volgens die McGregor-museum in dieselfde tyd as die kerk gebou. Dié kerk in Chapelstraat is op 24 Oktober 1906 ingewy. Die pastorie kon met onder meer staalplafonne met patroontjies, Kanadese eikehout-vloere en -afwerkings, 11 vertrekke, en loodglaswerk – soortgelyk as dié in die kerk – by die voordeur spog.

’n Sekuriteitswag wat diens in die omgewing van die kerk en pastorie doen, sê dit is nie die eerste keer dat straatkinders en ander haweloses skade aan die huis berokken nie.

Volgens hom het hulle Sondagnag waarskynlik vuur op die boonste verdieping gemaak omdat hul beweging op die grondvloer opgemerk sou word. Hoewel die brandweer die brand kon blus, was groot skade steeds aangerig.

TH

‘n Groot deel van die boonste verdieping, en ‘n deel van die dak, het tydens die brand ineengestort.

Pastorie ‘deel van ons’

“Ons is so hartseer; dit is deel van ons,” sê Serita Berner, sekretaresse van die gemeente.

Sy vertel dat hulle ’n klein gemeente is, met meestal ouer lidmate.

“Ek weet nie wat ons gaan maak nie. Ons het nie die geld om die gebou te herstel nie,” sê sy.

Die pastorie, wat vanjaar 118 jaar oud is, is lank reeds nie meer die pastorie nie, en word op ’n gereelde grondslag as kantoor­ruimte verhuur.

Ten tye van die brand was daar nie huurders in die gebou nie, hoewel van die vorige huurders se toerusting nog daar gestoor was.

Die voorkant van die pastorie is deur ’n lae heining omring, en met die teenwoordigheid van leë drankbottels en ander rommel, is dit duidelik dat die heining of stoep gereeld deur haweloses as slaapplek of beskutting gebruik word.

Leë drankbottels en ander rommel ontsier die voorkant van Trinity House.
TH

Die voortuingedeelte van die Trinity House is met rommel bestrooi.

Die gemeente was nog besig om geld bymekaar te maak om sekuriteitsheinings aan die voorkant van die pastorie op te rig.

Aan die agterkant is palissadeheinings opgerig, waarvan ’n deel reeds afgesteel is.

Ook aan die agterkant, waar kwaaddoeners voorheen ingebreek het en “alles wat hulle kon steel, reeds gesteel het”, is ’n versterkte staaldeur opgerig, en versterkings voor vensters aangebring.

‘Pastorie deel van toerisme-erfenis’

Sharon Steyn, hoofbestuurder van die Noord-Kaapse Sakekamer (Nocci), sê historiese geboue soos Trinity House is deel van Kimberley se toerisme-erfenis, en die beskadiging hiervan het ’n nadelige invloed op die toerismebedryf. Sy sê dit is jammer dat die geskiedenis van Kimberley deur sulke optrede vervreem word.

TH

Ernstige brandskade in aan die Trinity House aangerig.

Sy sê dit kan verwag word dat haweloses in die koue in leë geboue gaan skuiling soek, en vuur gaan maak om warm te bly.

Steyn meen dit is jammer dat haweloses nie van amptelike skuilings gebruik maak nie.

You need to be Logged In to leave a comment.