Kimberley gaan in die afsienbare toekoms met ‘n botaniese tuin spog. Dié botaniese tuin wat op die terrein van die Oppenheimer-tuine gevestig gaan word, sal na verwagting deur die Suid-Afrikaanse Biodiversiteitsinstituut (SANBI) geakkrediteer word.
Volgens beplanning sal dié botaniese tuin vir uitstallings, boekklub-byeenkomste, vertonings in ‘n opelugteater, asook musiekuitvoerings, oop wees. Dit word in samewerking met die Sol Plaatje-universiteit (SPU) in die Noord-Kaapse hoofstad gedoen.

Die tuin sal daagliks, en soos bepaal deur die SPU en in lyn met die universiteit se visie, vir die publiek vir besoeke oop wees.
Kashini Maistry, direkteur van institusionele bevordering en van die kantoor van die vise-kanselier, sê die botaniese tuin sal ook as ‘n opeluglaboratorium vir akademici en studente van die fakulteit natuur- en toegepaste wetenskap dien.
Tuine eens middelpunt van kulturele aktiwiteite
Die Oppenheimer-tuine is geleë in ‘n deel van Kimberley wat eens die middelpunt van kulturele aktiwiteite was. Dit is aangrensend aan die William Humphreys-kunsgalery en die Noord-Kaap Teater. Dit was eens ‘n fokuspunt vir pieknieks, met fotosessies in die roostuin.
Twee bekende bakens in die tuin is die Delwersfontein, ook as die Diggers’ Memorial Fountain bekend, en die borsbeeld van Sir Ernest Oppenheimer. Op ‘n tydstip is ‘n deel van die voormalige Gariep-kunstefees hier aangebied.
Die tuine het oor die jare weens ‘n gebrek aan instandhouding, asook vandalisme, verval. Die delwersif wat die vyf lewensgrootte beelde van die mynwerkers, as deel van die Delwersfontein, vasgehou het, is gesteel. Een beeld is gevandaliseer, en is verwyder. Wat eens ‘n besondere fontein was, het tot ‘n seeroog verval. Die borsbeeld van Oppenheimer is gesteel, en toe vervang.

Vroeg in 2022 het NoordkaapBulletin berig van beweerde drank- en dwelmmisbruik wat in die tuine plaasvind. Besoekers aan die kunsgalery, teater en ook die hooggeregshof het van ‘n “misdadige atmosfeer” vertel. Regslui wat soms in die aande en oor naweke bestrede aansoeke in die hof moes doen, het gesê dit is weens wetsoortredings wat in die tuine plaasvind, onveilig.
Universiteit blaas lewe in Kimberley
Maistry sê in April 2021 reeds het samesprekings tussen die SPU en die Sol Plaatje-munisipaliteit begin rakende die koop van die tuine deur die universiteit. Vroeg in 2022 is besware teen die verkoop van die tuine deur lede van die publiek geopper. Ná uitgerekte samesprekings is die verkoop van die tuine, vanaf die munisipaliteit na die universiteit, in September 2023 afgehandel.
In November 2023 het De Beers die 14-verdieping Harry Oppenheimer-gebou aan die SPU geskenk. Dié gebou is ook aanliggend aan dié tuine. In Februarie 2024 het die SPU eienaarskap van die tuine verkry.
Sedertdien het die SPU begin om ‘n groot veeldoelige saal op ‘n punt van die terrein te bou, en die hele tuin is omhein.
Volgens Maistry het die oprigting van die universiteit in Kimberley weer lewe in ‘n deel van ‘n sterwende middestad geblaas.
“Terwyl die SPU moderne infrastruktuur en werksgeleenthede bied en die ekonomie versterk, word moeite gedoen om met die omliggende gemeenskappe te skakel en inklusiwiteit te bevorder, wat die gang van sosiale interaksies in die stad verander het,” sê Maistry.
Voorbereiding vir botaniese tuin aan die gang
Die projek van die universiteit wat tot op hede die meeste emosie wek, is juis dié een om die tuine te laat herleef. Dit is deur Harry Oppenheimer gevestig om die lewe van sy pa, Sir Ernest Oppenheimer, te herdenk. Sir Oppenheimer was die stigter van Anglo American en ‘n voormalige burgemeester van die stad.

Die tuine is in Desember 1961 geopen en het ‘n deel van die terrein van die ou Maleise kamp in beslag geneem. Die kamp was deel van stedelike ruimtes wat uit die vroeë mynboudae van Kimberley ontwikkel het. Toe De Beers, eenmalige eienaars van die grond, die kamp in 1939 aan die stad geskenk het, was dit op voorwaarde dat “krotbuurtopruiming” gedoen word.
‘n Groot hoeveelheid werk moet nog plaasvind voordat die tuine met ‘n nuwe voorkoms gaan spog. Maistry sê dit sal tydelik gesluit wees. Infrastruktuurverbeterings vind plaas, onder meer die koppeling van veiligheidkameras, WiFi, beligting, besproeiing en pomphuise ter voorbereiding van die vestiging van die botaniese tuin.

You must be logged in to post a comment.