In die eerste nasionale boogskiettoernooi vir die jaar het 17 skuts van die Noord-Kaap uitstekend presteer en hiermee bevestig dat dié sportsoort, nog redelik onbekend in die provinsie, ’n merk laat – en nie net op die teiken nie.
Dié nasionale kompetisie van die nie-winsgewende organisasie Africa Genesis Archery South Africa (AGA-SA) NPC vir skole en klubs het op 29 Januarie plaasgevind. Die Noord-Kapenaars het met behulp van Skype uit die sportgimnasium van die Elizabeth Conradie-skool in Kimberley deelgeneem.
Punte is direk ná die byeenkoms na ’n sentrale sentrum gestuur, vir verwerking en bekendmaking van die nasionale uitslae.
In die laerskool-afdeling (gr. 4 tot gr. 7) was Marvin Ponton, in gr. 7 aan die Laerskool Eureka in Kimberley, tweede in Suid-Afrika, en eerste in die Noord-Kaap met ’n punt van 272 uit 300. Marvin het 11 tiene geskiet en sy telling was die hoogste van al die Noord-Kaapse skuts se tellings.
Elrize de Greeff, ’n gr. 6-tuisskoolleerling, was tweede met 242/300. Ciska du Preez (gr. 7), ook van Eureka, was derde met 196/300.
In die hoërskool-afdeling was Tyra Adams, ’n gr. 11-tuisskoolleerling, eerste met ’n telling van 268/300. Sy het 11 tiene geskiet.
Terence van Eck, in gr. 10 aan die Hoërskool Adamantia in die stad, was tweede met 224/300.
Wietsche Hoek, ’n gr. 8-leerling aan die Hoërskool Diamantveld in Kimberley, was derde met 226/300.
In die volwasse afdeling was Schalk van der Merwe van Adventure Archery Klub Kimberley eerste in die Noord-Kaap met 266/300 en 12 tiene; Dawid de Greeff van Adventure Archery Klub in die tweede plek (263/300 en tien tiene); en Werner Hoek van Adventure Archery Klub derde met 226/300.
Al die skuts het aan die Bull’s-eye-kompetisie deelgeneem. Hiervoor moet skuts 15 pyle op 10 m na ’n 80 cm-Fita-teiken skiet, en daarna 15 pyle op 15 m, waarna ’n punt uit 300 toegeken word. Die Fita-teiken is op peil met die vereistes van die Wêreldboogskietfederasie.
Skuts moet aan minstens vyf provinsiale kompetisies per jaar deelneem om in aanmerking vir provinsiale en nasionale kleure te kom. Die vyf beste tellings van elke skut vir die jaar bepaal die rangorde van die topskuts in die land.
- Individue, skole of ondernemings wat by boogskiet betrokke wil raak, kan Schalk van der Merwe by 082-762-9838 bel, of Dawid de Greeff by 073-030-2909, of ’n e-pos na nc@nasp.co.za stuur.