Die Springbokke is deur na die halfeindstryd van die wêreld­beker-rugbytoernooi nadat hulle die Hane­ met ’n enkele punt, met 29 – 28, geklop het.

Dié taai kwarteindstryd teen die Franse in die Stade de France voor 80 000 toeskouers op Sondag 15 Oktober het miljoene Suid-Afrikaners én Franse tot die laaste oomblik diep in beseringstyd op die rand van hul sitplek gehou.

Die Bokke het met krag, durf en vasbyt in die laaste kwart van die wedstryd teruggeveg om die Franse te troef. Die Springbokslot Eben Etzebeth het in sy 115de wedstryd een van sy heel beste dae op die veld beleef, ongeag daarvan dat hy met ’n geel kaart van die veld gestuur is. Sy drie in die 66ste minuut was die draaipunt in die stryd.

As die kwarteindstryd Saterdag tussen die All Blacks en Ierland een van die beste toets­wedstryde nog in ’n wêreldbekertoernooi was vanweë die intensiteit en vaardighede, was die laaste van die kwarteindstryde Sondagaand ’n strategiese wedstryd tussen reuse-boksers.

Suid-Afrika kom Saterdag teen Engeland te staan, terwyl Nieu-Seeland Vrydag met Argen­tinië kragte meet vir ’n plek in die eindstryd.

Die twee gunstelinge, Ierland en Frankryk, is albei oor die naweek uitgeskakel.

You need to be Logged In to leave a comment.