Die gewilde maatsoekreeks, Boer soek ’n vrou, se volgende seisoen wink en boere op soek na liefde kan nou vir dié kykNET-reeks inskryf wat in 2025 uitgesaai word.
Tientalle Suid-Afrikaanse boere het reeds die liefde van hul lewe danksy dié reeks gevind.
“Om lief te hê, is een van die grootste geskenke in die lewe. En liefde is onverwags,” sê Marciel Hopkins, model, motiveringspreker en Boer soek ’n vrou-aanbieder vir die afgelope vier jaar.
Hoewel sy aangekondig het dat sy vanjaar ander projekte gaan takel, vertel sy dat die lewenservaring wat sy deur die reeks opgedoen het, van onskatbare waarde is.
Boer Hennie de Villiers stem met Hopkins saam. Hy was ’n deelnemer in seisoen 15 en het die liefde van sy lewe tydens die reeks ontmoet. Hy en Eloïse van Heerden is in Desember 2023 getroud.
“Dié proses werk beslis. Jy leer meer van jouself want jy beweeg uit jou gemaksone. Terselfdertyd verbeter jou selfvertroue,” sê hy.
Boer Tyson Zunckel (seisoen 14) is danksy die reeks in September 2022 met Alri Vorster getroud. Hul eersteling het tien maande gelede haar opwagting gemaak.
“ ’n Mens het niks om te verloor nie. As jy opsoek is na liefde, vat ’n kans en kyk wat kan gebeur. Die reeks gee baie blootstelling wat jy nie op jou plaas of by ’n sokkie sou kry nie,” reken hy.
Boer Niel Bruwer (seisoen 13) het tydens sy reis liefde by Cheréze Maree gevind en hulle is vandag die trotse ouers van twee kinders.
“Wie nie waag nie, wen nie. Ek wou nie inskryf nie, maar was so onder groepsdruk wat aanmekaar aan my geknaag het. Jy kan of een ongelooflike vrou ontmoet of jy gaan een ongelooflike reis hê – of jy gaan altwee hê. Dit was lewensveranderend vir my, 100%.”

Indien jy ’n ongetroude boer of plaasbestuurder is, hetsy man of vrou, kan jy só inskryf:
- Besoek kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ’n inskryfvorm aflaai; of bel 079-614-2229; of stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com.
Onthou
- Foto’s en afskrifte van geldige Suid-Afrikaanse identiteitsdokumente (ID) moet inskrywings vergesel;
- diegene wat wil deelneem, moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees; en
- inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 29 Augustus bereik.
Die tien topboere sal op Sondag 27 Oktober tydens ’n uitsending op kykNET aangekondig word. Voornemende pasmaats sal dan vir dié boere briewe kan skryf.


