Wurms hou bedreiging in:

Boere is gewaarsku om op die uitkyk te wees vir die herfskommandowurm.

Diegene wat mielies, sorghum en suikermielies plant, moet voorkomend optree om die plaag te beheer, sê die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling in ’n verklaring.

Die wurms kan op verskeie gasheerplante oorleef en groot skade aan graangewasse aanrig. Die plaag kom in al nege provinsies voor, met die verspreiding en hoeveelheid wat van plek tot plek verskil.

Boere moet op die uitkyk wees vir die eierpakkies van die wurms, asook skade aan die blare van graangewasse. Die motte kan met lokaas in valle gevang word, en dit dien as vroegtydige waarskuwing dat die plaag in ’n gebied inbeweeg het.

Wurms wat kleiner as 10 mm is, kan met ’n plaagdoder bespuit word. Sodra hulle groter is, kruip hulle diep in die blaarstingels van mielieplante in en raak dit moeilik om hulle met ’n chemiese middel te dood.

Boere word gevra om plaagdoders met verskillende aktiewe bestanddele af te wissel omdat die wurms vinnig weerstand opbou wanneer net een soort middel gebruik word.

Alet van der Walt

You need to be Logged In to leave a comment.