Kameeldoring: Boekrak ’n skatkis

Tuisskool is ’n wonderlike manier om tyd saam met kinders deur te bring – maar soms is die kind slimmer as die juffrou.


Tuisskool is ’n wonderlike manier om tyd saam met kinders deur te bring – maar soms is die kind slimmer as die juffrou.

Oudste praat soos ’n volgelaaide radio; nie ’n oomblik van stilte of asemskep nie. Mamma se ore suis van fossiele voor en “Lego Police” agter. Sy vra Oudste hoflik, dog ferm, om groot asseblief net ’n rukkie stil te bly wanneer “skool” begin en ’n hoofpyn aan haar voorkop klop.

“As gister die 16de was, hoeveelste is dit vandag?” vra Juffrou Mamma.

Oudste kruis sy arms. Mamma ignoreer dit, herhaal die vraag en dring nie-verbaal aan op ’n antwoord.

Dikmond en deur saamgepersde lippe antwoord hy: “Mamma said I must keep quiet.”

“Jy kan nou weer praat,” sê Mamma.

Die stilswye en dikmond verdamp toe hy Pappa se Jeep met ’n boekrak op die dakrak deur die ruit gewaar. Naas boeke, Lego’s en die buitelug is boekrakke immers die ding waarvan die Rooyspan-kinders die meeste hou.

Opgewonde hardloop die twee na die voordeur en Jongste klim teen die traliewerk uit. Die een hand klou, die ander strek sy voor haar uit. Oudste skree: “Is that mine?”

Met die boekrak skaars oor die drempel, vertel Oudste met groot opwinding en trots van die fossiele en Lego’s, en darem ’n paar boeke, wat hy op sy (ouers se) boekrak gaan sit. Die geleentheid om die boekrak met allerlei skatte te vul, tem Oudste se dikmond.

Verby is Mamma se skooldrome vir die dag.

You need to be Logged In to leave a comment.