Intekenare op Netwerk24 kan hulself nou vermaak deur digitale blokraaisels en aanlyn speletjies op die nuusplatform in te vul en te speel.

Foto: Grafika Credit: SYSTEM

Digitale blokraaisels en aanlyn speletjies is van Netwerk24 se jongste toevoegings tot sy intekenaar-aanbod.

“Ons juig oor hierdie stap vorentoe en die waarde wat dit vir ons intekenare ontsluit,” sê Henriëtte Loubser, hoofredakteur van Netwerk24.

“Ons weet hoe passievol veral Afrikaanse blokraai- en speletjiegeesdriftiges oor hierdie verslawende tydverdryf is.

“Dit is mos ’n heerlike gevoel van genoegdoening om ’n raaisel te ontrafel en te sien hoe die letters en syfers netjies in plek val.”

Elke dag se blokraaie en speletjies – sudoku en ’n woordblom – sal maklik op die Netwerk24-tuisblad of in die nuwe “Speel”-afdeling gevind kan word.

In die app sal jy ’n kortpad-skakel kry wanneer jy op die “Vind als”-knoppie op die onderste navigasie in die app druk.

Speletjies-geesdriftiges kan dus élke dag terugkeer na Netwerk24 vir daardie dag se blokraai, sudoku en woordblom.

Dit beloof om vinnige, daaglikse ontspanning so tussendeur die nuus van die dag te bied.

Benewens die dag se blokraai en sudoku, kan jy voriges in ’n argief gaan speel, maar daar is slegs een woordblom op ’n keer beskikbaar.

Elke Vrydag sal Netwerk24 oudergewoonte ’n nuusvasvra aanbied sodat intekenare hul kennis van die week se groot nuusgebeure kan toets.

Intekenare Jy kan hierdie speletjies teen tyd speel en hul jou uitslae op sosiale media met ander deel.

As jy moet wegglip voordat jou speletjie klaar is, sal jou vordering in die speletjie gestoor word en kan jy gerieflik terugkeer om verder te speel.

Die blokraaie is vars en oorspronklik en spesiaal vir Netwerk24 ontwikkel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article