BLOEMFONTEIN. ‘n Hele paar Bloemfonteiners het uitgeblink in Hyrox Kaapstad wat op 19 en 20 Julie in die Kaapstadse-konferensiesentrum aangebied is.
Dit was vanjaar die derde keer dat dié sportgeleentheid aangebied is. Hyrox is ‘n binnenshuise fiksheidskompetisie wat hardloop oor 8km afwissel met agt oefenstasies.
Deelnemers moet agt oefeninge doen met 1km hardloop tussen elke funksionele werkstasie. Elke rondte word teen tyd gedoen.
Daar het 17 atlete van die LS Aesthetics-gimnasium in Bloemfontein na Kaapstad gereis en in verskeie kategorieë deelgeneem.

In die aflos-items was die Bloemfonteiners kampioene. Die vrouespan bestaande uit Lee-Ann Johns, Elsie Young, Claudia Monteiro en Natassja Nel het in die afdeling van vroue 40 jaar en ouer gewen en was derde algeheel met ‘n tyd van 1:15:04.
Die mans-aflos bestaande uit Corrie Breydenbach, Maurtitz Henderson, Lohan Swart en Llewellyn Human-Reto het die afdeling vir mans 40 jaar en ouer gewen en algeheel derde gekom met ‘n tyd van 57:49.
Individue wat uitgeblink het was Breydenbach wat derde in sy ouderdomsgroep was met ‘n tyd van 1:17:26.
Young en Johns was tweede in hul ouderdomsgroep in die dubbels Pro-afdeling met ‘n tyd van 1:22:44.
Mareli Koegelenberg en Tarien Maree het in die Pro-afdeling ‘n tyd van 1:29:45 behaal.
Swart, afrigter van die groep, het met ‘n tyd van 1:14:58 klaargemaak in die Pro-afdeling. “Ons atlete het baie vertroue gehad en was goed voorberei.”




You must be logged in to post a comment.