‘n Bloemfonteinse atleet het pas ses groot marathons voltooi met ‘n persoonlke beste tyd in die New York-marathon op Sondag 2 November.
Thinus de Vries, ‘n geoktrooieerde rekenmeester en ywerige hardloper, het met dié wedloop sy Abbott World Marathon Majors voltooi. Hiermee sluit hy hom aan by ’n uitsonderlike groep van sowat 15 000 hardlopers wêreldwyd wat die Six Star-medalje behaal het — die hoogste eer in amateur marathon-hardloop, toegeken aan atlete wat al ses van die wêreld se grootste marathons voltooi het: Berlyn, Boston, Chicago, Tokio, Londen en New York.

De Vries het die New Your City-marathon Sondag met ‘n persoonlike beste tyd van 2:44:19 voltooi wat hom 673ste uit 59 135 deelnemers geplaas het.
Die New York-marathon is die laaste van die ses groottes:
Hy het eerste die Berlyn-maraton in September 2023 voltooi, Boston (April 2024), Chicago (Oktober 2024), Toko (Maart 2025) en London (April 2025).
Sedert hy in 2018 begin hardloop het, het De Vries 43 kg verloor en sy gesondheid, werkbalans en lewensuitkyk verander.
“Ek hardloop om beter te wees as gister en om myself uit te daag,” sê De Vries. “My doel is om ander te inspireer om gesonder te leef en hul eie grense te verskuif hetsy in sport, werk of hul persoonlike lewe.”

Hy beklemtoon dat konsekwentheid en dissipline die grondslag van sy sukses is. Buiten sy sportprestasies, handhaaf hy ’n heeltyds professionele loopbaan én gesinslewe as man en pa.
Sy volgende groot doelwit is die Boston-marathon in April 2026, waarvoor hy reeds vir 2026 en 2027 gekwalifiseer het.
“Om ’n ‘Boston Qualifier’ te wees, is iets besonders in die hardloopgemeenskap. Ek wil Boston elke jaar hardloop solank ek kan kwalifiseer.”

De Vries is deel van Sportfit in Bloem. “Ek beplan om die Kaapstad-marathon volgende jaar te hardloop.
“Ek is geïnspireer deur die uniekheid van die Abbott World Marathon Majors – ses van die mees ikoniese wedlope ter wêreld en om deel te kon word van hierdie besonderse groep atlete van oor die wêreld heen. Dit voel soos een groot familie.”
De Vries vlieg vanaand terug en land Vrydag in Bloemfontein ná sy nuutste ervaring.



You must be logged in to post a comment.