John Block vroeër tydens 'n hofverskyning.
John Block tydens ‘n vroeëre hofverskyning. Foto: Charné Kemp/Argief

Die familie van John Block, oud-Noord-Kaapse ANC-leier, is verlig nadat ‘n appèlaansoek teen hom oor ‘n lastereis van R1,5miljoen in die Hoogste Hof van Appèl met koste afgewys is. Block dien sy parool uit nadat hy in 2016 aan korrupsie skuldig bevind is,

Regter F. Kathree-Setiloane en waarnemende regter P. Molitsoane AJA het op 26 Maart bevind daar is geen redelike vooruitsig vir sukses nie en daarom die appèlaansoek afgewys.

Die saak spruit uit ‘n lastereis van die Noord-Kaapse oudregterpresident Frans Kgomo. Die saak teen Block en twee prokureurs is verlede jaar in die hooggeregshof in Kimberley aangehoor. In die uitspraak is Block se destydse prokureur se boedel gelas om R150 000 aan Kgomo te betaal, asook die regskoste van die ander partye. Dié prokureur is intussen oorlede. Die eis teen Block en nog ‘n prokureur het misluk waarna Kgomo die Appèlhof genader het.

‘Ongegronde bewerings’ publiseer

In die saak het Kgomo vir Block, sy destydse regsverteenwoordiger wyle Abel (Dali) Mjila, asook Nano Matlala, ‘n prokureur, vir laster gedagvaar. Dit spruit uit Block se strafverhoor in 2016. Hiertydens het adjunkregterpresident Violet Phatsoane, voorsittende beampte, vir Block en Christo Scholtz aan korrupsie skuldig bevind.

Block het voor sy destydse vonnisoplegging in ‘n eedsverklaring beweer dat Kgomo onbehoorlike invloed op Phatsoane sou uitoefen om Block skuldig te bevind.

In sy eis het Kgomo aangevoer sy waardigheid en integriteit is aangetas deur die publikasie van die ongegronde bewerings.

Hy het voordat hy op parool vrygelaat is, in die lastereis getuig Mjila as sy destydse prokureur, het hom vertel dat Matlala van die beweerde voorval by ‘n ongeïdentifiseerde regter verneem het. Block het sy regspan vertrou en op sy regte gesteun.

Oudregter Frans Kgomo en sy regspan in die hooggeregshof in Kimberley.
Vroeër in die hooggeregshof in Kimberley is van links oudregterpresident Frans Kgomo by sy regspan, adv. Sean Rosenberg SC en Peter Horn van Haarhoffs Ing. Foto: Charné Kemp

Wyle Mjila het in sy pleitstuk gesê hy het die inligting van Matlala verkry. Hy het dit in die teenwoordigheid van ‘n senior advokaat met Block bespreek.

Matlala het in die getuiebank ontken dat die telefoniese gesprek tussen die regters ooit plaasgevind of dat hy iemand daarvan vertel het.

Regter Nathan Erasmus het destyds in sy uitspraak bevind dat Matlala nie verantwoordelik gehou kan word nie. Mjila het nie voldoende bewyse ingedien om sy pleitstuk te onder-steun nie. Block het redelik onder die omstandighede en sy regspan se raad opgetree.

Familie verwelkom beslissing

In ‘n verklaring op Facebook sê die Block-familie hulle glo die eis het geen meriete gehad nie.

“Ons verwelkom die beslissing van die Appèlhof, wat uiteindelik die ongegronde regsaksies teen ons familie ten einde bring. Dit het vir John onnodige angs veroorsaak en was ‘n toenemende frustrerende en lastige beproewing. Dit het gevoel soos ‘n meedoënlose poging om John se reputasie te skend. Ook soos ‘n begeerte om sy vrede en veiligheid te ontwrig.

“Sy fundamentele reg om vry en met waardigheid te leef is ondermyn in die lastige regseise. Dit was asof sy vryheid, wat ‘n reg moet wees, vir sekere mense voortdurende irritasie en ergernis geword het.”

Verklaring van Block-familie

Luidens die verklaring het Block vertroue in die oppergesag van die reg en integriteit van die regstelsel. Hy respekteer regsinstellings en owerhede wat grondwetlike waardes en menswaardigheid respekteer.

“Ons hoop dit is die laaste hoofstuk in ‘n reeks futiele pogings om Block se vrede te versteur, en dat hy toegelaat sal word om ‘n normale lewe te lei. Vry van die skaduwee van ongegronde bewerings,” lui die verklaring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article