Om ’n koffiewinkel te besit was altyd in Chrisna Rossouw se gedagtes, en die onverwagse aanbod om ’n geskenkwinkel oor te neem het haar effens verbyster gelaat.
Binne ’n week ná die aanbod het dinge egter in plek geval, en 14 jaar later kom besoekers van heinde en verre om Blikaspaai Koffiewinkel & Mincah Gifts in Jacobsdal te besoek.
Sedert sy eerste dag is Blikaspaai op dieselfde plek geleë: in Andries Pretoriusstraat langs die poskantoor, in die gebou van die destydse sentrale.
Om “rustiger te raak” het Chrisna 14 jaar gelede haar spanningsvolle beroep as ’n forensiese maatskaplike werker en gebiedsbestuurder vir Kindersorg verlaat. Sy het dit op aanbeveling van haar spesialis gedoen omdat sy gesukkel het om swanger te raak.
Terwyl sy nog gewonder het waarmee sy haarself sou besig hou, het sy onverwags die aanbod gekry om die geskenkwinkel in Jacobsdal oor te neem. Met ’n voorskot van haar man, Christo, en die hulp van ’n vriendin het dit haar werklikheid geword.
Die naam Blikaspaai is uit nood gebore in die tydperk toe enige artikel van blik hoogmode was. Mense van die omgewing het glo so baie blikke en allerlei blik-artikels aangedra dat die polisie ondersoek kom instel het omdat dit gelyk het asof sy in skrootmetaal begin handel dryf.
Die koffiewinkel het met tien tafels en 30 stoele begin, wat sy en ’n werklose jong man, wat pas matrikuleer het, elke dag in en uit die winkel gedra het.
“In die beginjare het ek alles self gedoen, selfs vloere gewas. Daar was net nie geld om iemand permanent aan te stel nie,” sê sy. “Ek het een en ’n half jaar lank alleen gewerk voordat ek die eerste personeel kon aanstel.”
Koester-oomblikke en inspirasie
“Blikaspaai wil koester-oomblikke skep, en ’n verskil maak by mense wat ons besoek,” vertel Chrisna.
Sy reken ’n ontspanne atmosfeer, een wat mense laat tuis voel, is baie belangrik. Besoekers het Blikaspaai al as ’n “inspirasie” beskryf, en dit is presies wat Chrisna wil regkry.
“Die Here wys met sommige mense dat ek met hulle moet praat. Sommige kom hierheen vir stilte; ander om nie alleen te wees nie.”
Chrisna beskou die monsterpizzas as Blikaspaai se spesialiteit, maar die tramezzini, burgers en koffie van varsgemaalde koffiebone is ook besonder gewild.
Boonop is Blikaspaai bekend vir sy kookkos wat op ’n Woensdag bestel kan word, en die vetkoeke op ’n Vrydag. Snoepborde is nog ’n spesialiteit, en Blikaspaai kry selfs bestellings uit Kimberley.
Bestellings hou hulle deur die week behoorlik besig, en met haar skeppende aanslag maak Chrisna seker dat ook die verpakking daarvoor mooi lyk.
Plaaslik is veral die skole in Jacobsdal groot ondersteuners van Blikaspaai, maar verbygangers en besoekers van elders maak ’n groot deel van die klandisie uit.
“Ook mense wat die Mokala- Nasionale Park besoek, ry hierheen vir ’n ete of ’n bestelling,” sê Chrisna. Verjaardagpartytjies en ander geleenthede vind gereeld in Blikaspaai en in sy tuin plaas, en selfs ’n klein troue is al aangebied.
Haar man het haar van die eerste dag af ondersteun, en was nog altyd haar “handy man”, ondersteuner, finansiële raadgewer en die een wat haar gehelp het om die winkel en sy inhoud in plek te kry. Hy werk tans in Amerika om verder te help om haar droom van die winkel te help behou. “Hy is ‘n ongelooflike deel van Blikaspaai,” sê Chrisna.
Sonder die res van haar span sal die onderneming ook nie kan bestaan nie, sê sy. Van Annetjie Kruger wat met die kookkos help en vriendin Adri Venter tot die twee staatmakers Alice Adams en Lindi Coetzee – elke bydrae is van onskatbare waarde. Haar ma, Sylvia van Tonder – voormalige posmeester van Jacobsdal – doen al die blommerangskikkings, en Seun Kantwane sien na die tuin en speelterrein om.
“Ons sirkel is klein, maar geweldig doeltreffend. Elkeen vul mekaar aan.”
Nuwe begin
Die afgelope 14 jaar was goed, maar ook ’n harde leerskool, sê Chrisna.
By tye was dit baie moeilik om Blikaspaai se deure oop te hou. So ’n jaar gelede het sy die woord ontvang dat ’n nuwe begin vir haar op pad is, soos in Jesaja 43:19 geskryf. Die Here het ook vir haar gesê dat Hy haar skeppende talent gaan gebruik. Vanweë hierdie boodskap weet sy vir seker dat die Mincah Gifts-geskenkwinkel moet voortgaan, en selfs na ’n aanlyn winkel uitbrei. Daarvoor is die meeste werk reeds gedoen.
Intussen doen sy steeds pro bono forensiese maatskaplike werk, en is ’n ma vir haar 12-jarige seun.
“Die Here seën my beyond measure,” sê sy.
- Blikaspaai is weekdae van 08:00 tot 17:00 oop, en Saterdae van 09:00 tot 13:00.
- Belangstellendes kan ’n WhatsApp-boodskap na 083-395-7410 stuur, of die Facebook-blad Blikaspaai Koffiewinkel & Mincah Gifts – Jacobsdal besoek.
- Blikaspaai het in NoordkaapBulletin se weeklikse nuusbrief adverteer.


