Die Paarlse kantoor van Binnelandse Sake is vir ’n onbepaalde tyd gesluit ná ’n gewelddadige insident waartydens ’n werknemer na bewering deur ’n lid van die publiek aangerand en gebyt is.
Die voorval het glo op Woensdag 23 Julie plaasgevind. Die presiese tydstip is egter onbekend.
Volgens ’n ooggetuie het die voorval begin toe ’n kliënt wat die kantoor besoek het (vermoedelik ‘n man) op personeel geskree het en geweier het om sekere dokumente aan hulle te oorhandig.
Die situasie het verder geëskaleer toe hy na bewering in ’n fisieke konfrontasie met ’n ander kliënt, vermoedelik ’n vrou en lid van ’n politieke party, betrokke geraak het.
Die man het glo dié vrou aangerand, en daarna sy aandag na ’n personeellid (nog ‘n vrou) verskuif waar hy haar fisiek ook aangeval het.
Volgens die bron het die werknemer daarin geslaag om die man op die grond vas te pen, waarna hy haar glo gebyt het.
Die Paarl-polisie is na die toneel ontbied en die man is weggeneem. Die motief vir die aanval is tans onbekend.
Die kantoor is ná die voorval ontruim en bly gesluit tot verdere kennisgewing.
Hierdie is ’n ontwikkelende storie. Hou Paarl Post dop vir meer hieroor.


