‘n Regter het Maandag 9 Junie in die hooggeregshof in Kimberley beveel dat ‘n voorverhoorkonferensie gehou word om te bepaal of ‘n moordsaak verhoorgereed is nadat die polisie se laboratorium ‘n bewysstuk verlê het.
Dié betrokke verhoor behels ‘n moordsaak waarin Butiki Simon Maboitshege daarvan aangekla word dat hy sy lewensmaat in Warrenton vermoor het. Dit het in 2024 in Ikhutseng, Warrenton, by sy huis plaasgevind.
Hy en sy vriendin, Marly Nero, het op 26 Februarie 2024 by ‘n taverne rusie gemaak. Bure het die nag gehoor hoe die oorledene om hulp skreeu. Haar naakte lyk is die volgende oggend op haar bed gevind en haar beserings dui sy is met stomp voorwerpe aangerand.

Voer aan ‘iemand anders het haar vermoor’
Maboitshege het glo aangevoer iemand anders het haar vermoor, maar het sy klere verbrand wat hy die betrokke aand aangehad het.
Die staat, wat gereed is om met die verhoor te begin, kan dit egter nie doen nie; ook weens uitstaande ondertekende verklarings, wat verband hou met die ketting van bewysstukmateriaal.
Adv. Elmari Krüger, aanklaer, wat aanvanklik ‘n aansoek wou bring om weer DNS-materiaal te bekom, het dit laat vaar omdat sy ‘n ander verklaring oor die DNS-analise bekom het. Sy het toegegee dat sy die aanklag van regsverydeling teen Maboitshege kan laat vaar as die verlore bewysstuk nie vorendag kom nie.
Heinrich Steynberg, namens die beskuldigde, het aangevoer dat sy kliënt “in aanhouding vergaan” terwyl die verhoor nie kan voortgaan nie.
Hy wou ‘n aansoek bring vir ‘n kommissie van ondersoek vir die hof om te bereg oor die vermiste bewysstukke en gevolglike vertragings.
Adjunkpresident Violet Phatsoane het dit nie toegestaan nie, en aangedring om die tyd wat vir die verhoor uitgesit is, sinvol te gebruik deur ‘n voorvonnisverhoor te hou om die saak verhoorgereed te kry.
Die staat moet die nodige ondertekende verklarings aan Steynberg oorhandig wat dit met sy kliënt sal bespreek. Die saak is tot Donderdag 12 Junie uitgestel.



You must be logged in to post a comment.