George van der Merwe, eienaar van die Kimberley Diamond Brewing Company in Ritchie, en sy hond, Zoë, sit Donderdag (14/04) gelate op die restaurant se stoep en staar oor hul “nuwe waterfront” uit, wat eintlik grasperk oor twee terrasse op die wal van die Rietrivier is. Van der Merwe sê hy was op die massa water voorbereid omdat hy geweet het hoe vol die Krugersdrift- en Kalkfonteindam was en dat dié water met die rivier sou afkom. “Ons sou Vrydagaand ’n fliek op ’n skerm op die grasperk gewys het, maar dit was onmoontlik. Ek was tot by my bors in die water toe ek die boot wat normaalweg op die grasperk lê, wegstoot omdat dit begin dryf en teen die speelrame gestoot het.” Teen Saterdag was die rivier weer op sy normale vlak. Huiseienaars in Ritchie het skade gely toe water deur hul tuine en huise gespoel het. Thoko Riet, woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê hulle het van die gesinne se besittings in ’n pakhuis bewaar en alternatiewe verblyf aangebied. Die Noord-Kaapse departement van paaie en openbare werke het die R31-roete tussen Kimberley en Barkly-Wes en die Riverton-brug oor die Vaalrivier weens vloede gesluit. Dit was steeds toe teen die tyd dat die koerant gedruk is.

Foto: Hazel Riekert Credit: SYSTEM