Om die naam van ’n ander op te pas is ons almal se taak.
Daar is tog geen oorwinning in om iemand anders skade te doen in dit wat jy sê of dit waaroor jy saam met ander skinder nie.
Soms, wanneer mense oor mense praat, dra hulle die waarheid oor; en ander kere vertel hulle sommer net stories.
Soms is mense kwaadwillig en wil hulle ’n ander skade berokken.
Ander kere sit en kuier mense sommer net oor ’n wyntjie en begin gesels met ander oor ander.
Hoe ook al.
Dit het nogal waarde om bekend te wees dat jy waardig met iemand se naam omgaan.
Al kan jy ook anders kies.
Al het jy ook kennis of die vermoë om iemand skade te doen.
Gelukkig is ons nie altyd bewus van wat mense oor ons of van ons sê nie.
Dit maak tog net onnodig seer.
Maar ons kan almal bydra om mekaar se naam op te pas, waaksaam te wees en met eer en respek met ’n ander om te gaan.
Hoekom?
Op die ou einde sê dit meer van die mense self wat oor mense praat, as wat die gesprek sê van die mense waaroor hulle gesels.
So, ja, ons hou nie daarvan om vermaan te word nie, maar hou maar jou tong van ’n ander af.
Bly eerder stil as wat jy seermaak.
Beskerm, eerder as vernietig.
As jy opreg en met omgee iemand moet bespreek ter wille van ’n saak, doen dit met grasie en eerbied.
Ons is immers ook verantwoordelik vir mekaar se naam.

