Noord-Kaapse boere langs die besproeiingsgordel van die provinsie gaan Vrydag (20/01) hul misnoeë oor beurtkrag en die verlammende gevolge daarvan op hul besighede demonstreer deur ’n vreedsame optog.
Een van die betrokkenes, wat nie sy naam genoem wil hê nie, sê die boere se slagspreuk is “Krag is kos en kos is krag vir Suid-Afrika”.
Die boere gaan Vrydagoggend tydens ’n vergadering by Douglas die land oor die elektrisiteitskrisis toespreek.
Hulle gaan in verskillende distrikte die Suid-Afrikaanse vlag laat wapper en dit ook op implemente aanbring as ’n positiewe gebaar om Suid-Afrikaners rondom die krisis te verenig.
Dit kom nadat Eskom die afgelope weke skedule 6-beurtkrag toegepas het, asook gepaardgaande kragonderbrekings weens foute op oorhoofse lyne wat veral besproeiingboere in plant- en oestyd kniehalter en hul voortbestaan bedreig.
Beurtkrag is Dinsdag na fase 4 en 5 afgeskaal.
Die landbousektor is volgens georganiseerde landbou die grootste werkverskaffer in die Noord-Kaap.
Dit lewer die tweede grootste bydrae tot die provinsie se bruto binnelandse produk (BBP) naas die mynbousektor.
Beurtkrag benadeel besproeiingsgebiede van Vaalharts tot by Upington en elders waar boere water uit die Vaal-, Riet- en Oranjerivier onttrek om met kontantgewasse, vrugte en groete te boer.
Sowat 120 000 ha word in die provinsie onder besproeiing bewerk.
Die energiekrisis volg op verliese waarin druiweboere se verwagte oesskattings verswak het, en koringboere se swak oes.
Dit word aan vroeëre beurtkrag en klimatologiese faktore toegeskryf.
Jong mielies, mielies in pluim en aartappelplantjies verskrompel, en druiwe kan nie benat of verpak word sonder dat ekstra koste aangegaan word nie.
Wim van Bergen, eienaar van die Backhouse-boerdery, sakeman en burgemeester van die Siyancuma-munisipaliteit, sê Eskom moet verantwoordelik gehou word en optrede word dringend geëis.
Miljarde rande se beleggings is op die spel.
“Ons versoek dat hulle nie in planttyd drastiese beurtkrag toepas nie.
“Eskom verbreek die Ruraflex-kontrak.
“Ruraflex is die ooreenkoms tussen boere en Eskom dat hulle goedkoper tariewe betaal wanneer hulle krag buite spitstye gebruik.
“Boere word nou gedwing om enige tyd wanneer hulle krag het, elektrisiteit te gebruik al is dit vier keer duurder.”
Van Bergen sê “dit voel of ons besteel word, maar sonder Eskom gaan ons uitboer”.
Intussen word planne beraam.
“Ons moet ons eie sonkrag- en windkrag- en waterstofaanlegte bou, wat op die duur meer betroubaar en goedkoper kan wees. Waterstofaanlegte is ’n bron van stikstof wat boere kan benut.”
Jaco
Cilliers, ondervoorsitter van die Jongboervereniging en van De Hoek-boerdery
buite Douglas, is moedeloos.
In
ideale omstandighede is 24 uur net genoeg om water vir gewasse in planttyd te
gee.
Gabriel
Viljoen, voorsitter van die Oranjerivier-produsente-alliansie en eienaar van
die Raaswater-landgoed buite Upington, sê druiweboere is onder geweldige druk.
“My
en ander boere se uitvoertafeldruiwe is meesal klaar verpak. Ek moet duur
brandstof vir kragopwekkers gebruik om klaar te verpak. Intussen moet ek te
midde van die hittegolf die rosyne-druiwe besproei wanneer ek krag het, al
betaal ek die duurste tariewe.”
Sy
druiwe-oeste is vanjaar ligter ná twee hittegolwe in Oktober en November waarin
druiwetrosse minder korrels het, en elke korrel ligter is.
Nicol
Jansen, voorsitter van Agri-Noord-Kaap, sê die bedryf het ’n groot ekonomiese
invloed op die breër gemeenskap, maar veral in die landelike gebiede waar dit
die grootste werkverskaffer is.
“Geldelike
verliese weens beurtkrag gaan die besteebare inkomste, en gevolglik die
ekonomie, geweldig knou. Die swak koringoes het reeds ’n geskatte verlies van
R1,2 miljard meegebring. Daar word swaar op die mielie-oes, wat nou op die
landerye is, gesteun om vir die verliese te vergoed.
“Die
vrugte- en groentebedryf is onder druk vanweë onvoldoende besproeiing en om die
koueketting te handhaaf om deurlopende verpakkingskapasiteit te verseker.
Die
verskillende landbousektore se behoefte aan elektrisiteit is kompleks en strek
wyd.
’n
Taakspan is die afgelope naweek ná dringende samesprekings met Thoko Didiza,
minister van landbou en landelike ontwikkeling, saamgestel.
Die
taakspan moet binne twee weke met aanbevelings kom.
Die
landboubedryf is in die streng inperkingstyd van die Covid-19-pandemie as ’n
noodsaaklike diens wat kos produseer toegelaat om te produseer.
Landbouers
het hul gesondheid en lewe in gevaar gestel om aan te hou boer. Met
elektrisiteitstekorte wat dieselfde risiko van voedseltekorte inhou, kan
landbou nie oeste red nie.
“
’n Rampverklaring en verklaring dat landbou ’n noodsaaklike diens is, is van
uiterste belang om die voedselproduksie te stabiliseer.
“Ons
pleidooi is dat besproeiingsboere deur die nag kan besproei wanneer die
effektiwiteit van benatting beter is. Die afgelope naweek was vyf gebiede in
Suid-Afrika die warmste plekke op die aardbol, met 46,9 °C by Augrabies en 42
°C in Upington.”


