Met die oorhandiging van die eerbewys aan die Hoërskool Nababeep is van links Esley Kistoo (hoofdirekteur), Charmaine Cupido-Erasmus (hoofonderwysspesialis), Danchwa Hollenbach (skoolhoof), Diana Curnow (adjunkdirekteur) en Karel Klein (kringbestuurder).

Foto: Facebook Credit: SYSTEM

Deur sy matriekslaagsyfer vir 2023 met 42,4% te verbeter, is die Hoërskool Nababeep in die Namakwa-distrik as die Noord-Kaapse skool met die beste verbetering in sy matriekuitslae aangewys.

Die matriekslaagsyfer vir 2023 is 83,3%, met 48 leerlinge wat matriek geskryf het, en 40 wat geslaag het.

In 2022 was die slaagsyfer 40,9%, en in 2021 was dit 64,3%.

Met die oorhandiging van die eerbewys aan die Hoërskool Nababeep is van links Esley Kistoo (hoofdirekteur), Charmaine Cupido-Erasmus (hoofonderwysspesialis), Danchwa Hollenbach (skoolhoof), Diana Curnow (adjunkdirekteur) en Karel Klein (kringbestuurder).

“Die skool is baie trots op die klas van 2023, wat ongeag struikelblokke uitstekend presteer het.

“Die onsuksesvolle kandidate se geesdrif om oor te skryf en hul uitslae te verbeter is ’n riem onder die hart,” vertel Danchwa Hollenbach, sedert Januarie 2020 die hoof by dié skool.

Unieke uitdagings wat leerlinge aan dié skool beleef, is onder meer werkloosheid in die dorp, verval in die gemeenskap, onbetrokkenheid van ouers by die skool, asook dwelmmisbruik en bendegeweld.

Boonop het swak belangstelling van leerlinge in hul skoolwerk en hul ongemotiveerdheid voorheen tot ’n swakker slaagsyfer bygedra.

Betrokkenheid belangrik

“Ongeag hiervan was die gehalte van ons skool se uitslae telkemale die beste in die distrik. Leerlinge met ’n gemiddeld van 80% was voortdurend deel van die slaagsyfer,” sê Hollenbach.

Hy vertel dat die hoër slaagsyfer aan verskeie faktore te danke is.

Beter ouerbetrokkenheid bestaan, hoewel dit nog nie na wense is nie. Betrokkenheid van oudleerlinge by die skool het ook ’n positiewe invloed, asook motiveringspraatjies deur professionele mense uit die gemeenskap en die betrokkenheid van kerke en kerkleiers by die skool.

Hollenbach sê dat gereelde tuisbesoeke by ouers en die leerlinge tot hul motivering bygedra het.

’n Leerkultuur is daadwerklik geskep, en studievertrekke is by die skool beskikbaar gestel vir leerlinge wie dit nie by hul blyplek tot hul beskikking het nie.

Naweekklasse is ook aangebied waarby ander onderwysers en leermeesters betrokke was.

Planne vir vanjaar ingestel

Die Hoërskool Nababeep het vanjaar 255 leerlinge, waarvan 28 matrikulante is.

Met die personeelgetal van tien onderwysers, asook een bykomende pos, het die skool reeds planne ingestel om 2024 aan te pak.

As ’n spanbougeleentheid word kwartaallikse uitstappies vir die leerlinge beplan.

Verskillende professionele persone gaan genooi word om by die skool oor hul beroep en werk te praat sodat die leerlinge kan besef dat dit wat hulle op skool leer, tog in die werksomgewing gebruik word

Verpligte ouerbesoeke aan die skool waar een-tot-een-gesprekke met die ouers en hul kinders gevoer gaan word, gaan op ’n gereelde grondslag plaasvind.

Ook word besoeke aan universiteite, kolleges en werksplekke beplan om leerlinge se kennis en keuses hieroor te verbreed.

“Baie dankie aan die gemeenskap van Nababeep, die ouers en leerlinge vir jul volgehoue ondersteuning en gebede,” sê Hollenbach.

“Die Hoërskool Nababeep het in 2023 besef dat die krag van gebed nooit onderskat moet word nie.

“Daarom wil ek my dank betuig en die Here loof vir sy veelvuldige seëninge op ons skool.”

You need to be Logged In to leave a comment.