Die Stillerweë Huis vir Bejaardes in Kimberley, wat reeds in 1952 gestig is, het verlede week sy nuut opgeknapte 24 uur-versorgingseenheid amptelik geopen.

Dié versorgingseenheid beskik oor 31 beddens en huisves ook verswakte bejaardes en Alzheimerlyers. Die opknappingsprojek is in Desember 2023 voltooi en het onder meer verbouings behels, soos om deur-openinge te vergroot en nuwe badkamers in te rig.

’n Nuwe noodklokkiestelsel is aangebring, so ook rook- en brand-alarms, kragproppe vir mediese toerusting, en ’n CCTV-monitering­stelsel wat 24 uur in werking is.

Dié eenheid bied ook dienste soos “respite care”, wat beteken kinders kan hul bejaarde ouer of ouers tydelik in Stillerweë se sorg laat wanneer hulle moet weggaan. “Stepdown”-versorging, waartydens iemand tydelik hier kan aansterk, is ook beskikbaar. ’n Hys-toestel om pasiënte in en uit beddens te help, word in die eenheid ingespan; so ook stimulerings­programme. ’n Sitkamer en ontspanningslokaal is ingerig, en konsultasies met familie kan plaasvind. Alle verpleegpersoneel het boonop buite-, asook indiensopleiding ontvang.

Inwoners kan ook in kamers in die hoofgebou woon, waar die siekeboeg geleë is.

Die oord bied boonop ’n behuisingskompleks vir afgetredenes bo die ouderdom van 50 jaar. ’n Persoon koop okkupasiereg van ’n eenheid en het die reg om dit lewenslank te bewoon.

Ander dienste sluit gebalanseerde etes in, die hantering van wasgoed, skoonmaakdienste, ’n haarsalon en biblioteek. Aktiwiteite soos legkaartbou, samesang, flieks en kaartspeletjies word vir inwoners gereël.

Stillerweë huisves tans 163 inwoners.

Met al dié dienste op die voorstoep, word Stillerweë as “ons dorpie” beskryf; met die gemoedsrus dat ’n 24 uur-versorgingseenheid beskikbaar is wanneer dit nodig sou wees.

You need to be Logged In to leave a comment.