Oupa Jeffrey Mahomane (47) in die getuiebank.

Foto: Charné Kemp

Die moordverhoor waarin sewe beskuldigdes, onder wie ‘n seun van oud-pres Jacob Zuma, tereg staan op die moord op Piet Els, bekende sakeman van Kimberley, is Vrydag (26/08) onverwags uitgestel nadat een van die beskuldigdes siek geword het.

Samson Sam Mbokane (63) se ineenstorting kom te midde van die kruisondervraging van Oupa Jeffrey Mahomane (44) wat in sy eie verdediging getuig het. 

Mahomane het volgehou Jabulani Zuma (62) het hom ná die aanval op die plaas kom haal. Hy was ontevrede dat Zuma dit ontken en aanvoer hy wat Mahomane is, het die rooftog help beplan.

Els (86), bekende sakeman in diamantkringe, en sy vriendin Rikkie Alsemgeest (toe 68) is op 24 Januarie 2018 in sy slaapkamer met ’n strykyster gemartel en aangerand. Els is op 15 Mei 2018 (111 dae ná die aanval) in die hospitaal aan sy beserings oorlede. Alsemgeest het oorleef.

Die ander beskuldigdes is Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37), albei van Lesotho, Lizbeth Ndlala (56), Themba Lawrence Maja (68), albei van Pienaar, en Zuma van Mtubatuba, KwaZulu-Natal. Mahomane is van Pienaar en Mbokane van Mbombela.

Hulle staan tereg op aanklagte van onder meer huisbraak, aanranding, moord en twee aanklagte van die onwettige besit van ’n 7.65 mm-Walther-pistool en ’n .30-30-Winchester-geweer.

Uit die getuienis is drie groepe betrokkenes geïdentifiseer.

Zuma het van Kwazulu-Natal na Mbombela, Mpumalanga gery omdat hy ‘n advertensie van ene Amos Ralihlare gelees waarin hy sê hy kan help om ou munte op te grawe en bose geeste te verjaag. In Mbombela het hy vir Ndlala; Maja, haar man; Mahomane en Mbokane opgelaai omdat hulle rituele vir hom in Kimberley moes uitvoer.

Die tweede groep is Ralihlare (wat ook ‘n rol gespeel het) by wie se huis Zuma en sy geselskap in Galeshewe vir twee nagte vertoef het.

Die derde groep is drie Sotho-sprekende mans wat die aanval uitgevoer het.

Adv. Hannes Cloete, aanklaer, het Mahomane beskuldig dat hy ‘n onbetroubare getuie is wat homself weerspreek en sy weergawe voortdurend aanpas.

Mahomane wat aanvanklik aangevoer het hy was onder die indruk dat hulle net ou munte gaan opgrawe, het erken hy het reeds met hul vertrek uit Mpumalanga geweet die Krugermunte is op ‘n “wit man” se plaas in Kimberley. Die man het hulle nie toestemming gegee om sy plaas te betree nie. Hy het toegegee dat hy voor die voorval ingesit het by ‘n vergadering oor die beplande rooftog.

Volgens hom het hy eers die nag van die voorval, toe hy sien Els en Alsemgeest is vasgebind en aangerand, besef dit is ‘n rooftog. Hy kon homself nie daarmee vereenselwig nie en het die huis verlaat. Hy het in oproepe aan Maja, Mbokane en Ralihlare wat hy ontvang en gemaak het, gesê dit is ‘n rooftog (wat hulle ontken) en Zuma moet hom kom haal.

Mahomane wat ‘n sekuriteitswag voor die voorval was, kon nie bevredigende antwoorde gee oor hoekom hy nie ook daardie nag die polisie gebel het nie. Hy het tot met sy inhegtenisname nooit die polisie gebel of vertel wie betrokke is nie.

Chande Booysen het namens Zuma in haar kruisondervraging aangevoer Mahomane is saam met Ralihlare by die rooftog betrokke maar was ontevrede oor sy aandeel van die buit. Dit is hoekom Ralihlare hulle weggejaag het.

Ralihlare het volgens die staat se bewering ‘n groot rol in die rooftog gespeel en is voortvlugtend. Mahomane is in besit van Els se blou sak, munte en selfoon gevind toe hy in hegtenis geneem is. Volgens hom het Ralihlare die sak na die rooftog in sy hande gestop en hulle van sy huis weggejaag.

Regter Lawrence Lever het die verhoor tot 22 November uitgestel. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article