Charné Cronjé van Kimberley is ’n semi-finalis in die 2024 Mev. Heelal Suid-Afrika-kompetisie, en dié bedrywige entrepreneur is hard aan die werk in haar reis na die volgende rondte terwyl sy al haar ander lewenstake daarmee balanseer.
Cronjé is die stigter van die grootste Afrikaanse ouerondersteuningsgroep op Facebook, Mammas 24/7, is ’n berader ná sy haar meestersgraad in Christelike berading verwerf het, en is met haar doktorsgraad besig.
Sy is boonop ’n skrywer, en benewens die voortdurende betrokkenheid by elke plasing op Mammas 24/7, het sy vir Carpe Diem en die vrouetydskrif Finesse geskryf. Sy was ook die mede-redakteur vir Goue Munt, `n gratis geselstydskrif wat in Kimberley versprei het. Voorheen was sy ook ’n vryskutdosent vir studente in die bediening.
Bo dit alles is sy ’n eggenote en maat vir haar man, Rudi, en die ma van twee kinders, Makayla en Kayden, wat vanjaar in gr. 4 en gr. 6 is.
‘Drome vir ‘n rede in jou hart’
Cronjé se passie om individue te lei en bemagtig het meegehelp dat die Mev. Heelal Suid-Afrika-kompetisie haar “geroep” het, en sy om “elke hoek en draai” ’n inskrywingsvorm daarvoor gesien het.
“Later kon ek nie meer weghardloop daarvan nie,” vertel Cronjé wat nog nooit voorheen belanggestel het om vir so iets in te skryf nie.
Haar grootste doelwit wat sy deur deelname aan die kompetisie wil bereik is om vir vroue te wys dat bemagtiging binne bereik is.
“Elkeen is uniek en elkeen het iets om te bied. Jy is waardevol, jy is genoeg! Moenie in jou vermoë twyfel nie. Drome is vir ‘n rede in jou hart en jy moet gehoorsaam wees en dit nastreef.”
Charné Cronjé
Vir haar eie menswees was die deelname tot dusver uiters positief.
“Ek het baie geleer oor selfvertroue; dit is iets wat ek al my lewe lank mee sukkel. In die kompetisie is daar nie tyd om in jouself te twyfel nie. Alles gebeur so vinnig en dan kom selfvertroue onverwags en vanself.”
In dié reis word ’n susterskap met mede-deelnemers gevorm, en Cronjé het opnuut bewus geraak van die impak wat elkeen kan hê deur sy stem te gebruik.

Die skrikwekkende en kommerwekkende syfers van huishoudelike geweld en mishandeling is ook ’n aspek wat sy aanspreek.
“Mense is so bang om uit te praat, veral oor die gevolge wat hulle dalk mag beleef of die oordeel wat hulle van ander mag ontvang. Hierdie siklus moet gestop word. Ons moet fokus om saam te werk om dit te bekamp en om slagoffers ‘n veilige spasie te gee om hul waarheid te deel.”
Deel daarvan om dié doelwit te bereik, is om noue bande met Caritas Gemeenskapsfokus te vorm.
Die aanwys van die wenner vind in Februarie 2025 plaas, met ’n stemplakkaat-periode wat later gaan volg waartydens die publiek vir ’n wenner kan stem.
‘Hartswens om altyd verskil te maak’
“Ek is dankbaar vir die meer as 150 000 mammas wat dit volg en wie deur die jare mekaar bystaan, ondersteun, raad gee en bemoedig.
“Sonder hulle, wie die plasings lees, sou die blad nie moontlik gewees het nie. Elke share, elke like, elke comment en elke lees van ’n plasing hou die blad aan die gang.”

Voorheen het Cronjé vertel dat niemand weet hoe om die perfekte ma te wees nie, maar met ander se ondersteuning, raad en bemoediging kan jy die beste moontlik vir jou kind doen.
“My hartswens met Mammas 24/7 was en sal altyd wees om ‘n verskil te maak, om mense se harte aan te raak, al is dit hoe klein.”
Waar Cronjé vroeër jare waargeneem het dat mense negatiewe of kritiese kommentaar op ander se plasings lewer, beleef sy nou dat dit afgeneem het.
“Ek voel trots daarop dat meer en meer mense besef daar is nie plek daarvoor in ons samelewing nie; dat ons mekaar het en dat ons mekaar móét ondersteun.”
Oor haar beradingsrol, as CC Counselling, beklemtoon sy dat om hulp te vra, ’n dapper stap vorentoe is. Haar geloof is ’n goue draad deur alles wat sy aanpak.
Die grootste kwelpunte waarmee vroue worstel sluit dikwels emosionele uitdagings in soos selfbeeld, spanning, en die druk om alles te balanseer. Meer en meer vroue twyfel in hulself, en in hul waarde.
“Hulle voel net nie genoeg nie. My raad aan hulle is om hulself genoeg tyd en ruimte te gee vir selfsorg, om ondersteuning te soek by ander vroue, en om nie te huiwer om hulp te vra nie.
“Dit is belangrik vir vroue om hul eie behoeftes te erken en te prioritiseer te midde van al die verantwoordelikhede wat hulle hanteer.”
Syself het ’n paar maande gelede erge spanning beleef nadat sy ná tien jaar van vreeslike maagpyn, “waar dit voel of alles binne my skeur,” ’n operasie moes ondergaan nadat vasgestel is dat haar blaas, baarmoeder en maagwand aanmekaar gegroei het ná haar laaste keisersnit tien jaar gelede.
’n Laporotomie is op haar uitgevoer, met heelwat risiko’s verbonde aan die prosedure om die organe weg van mekaar te sny.
Toe Cronjé ná die suksesvolle operasie uit narkose wakker word, het sy van dankbaarheid gehuil.
“ ‘n Mens besef nie altyd, tot jy in so situasie is en die beheer uit jou hande is, hoe vinnig dinge kan draai of skeefloop nie.”

Volg haar reis
Ongeag soveel spreekwoordelike hooi op haar vurk sê Cronjé dat sy lankal nie meer net 24-uur in ’n dag het nie.
“Soms voel ek dat ek die wêreld se tyd het; en ook dat ek nie genoeg doen nie. Ek dink dit is die rede hoekom ek net meer en meer aanpak.
“As iemand sê hulle het nie tyd vir iets nie, kan hulle ‘n draai by my kom maak. Maar dis net deur die Here se genade. Wanneer Hy wil hê jy iets moet doen of aanpak, sal Hy die tyd vir jou gee.
“Hy sal seker maak die tyd staan so bietjie stil, spesiaal vir jou, om alles op jou lysie te voltooi.”
Volg Cronjé se doen en late op Facebook by Charne Cronje – Mrs Universe South Africa 2024 Semi-Finalist; Mammas 24/7; en Charne Cronje Counselling.
Besoek die Facebook-blad Mrs Universe South Africa of Charne Cronje – Mrs Universe South Africa 2024 Semi-Finalist om uit te vind hoe om vir Cronjé in dié kompetisie te stem.
- Cronjé is op Saterdag 31 Augustus om 09:30 ’n gasspreker by ’n vroueoggend tydens die Yonder Hartsfees. Dit vind in die Sam Goldblatt-kompleks by Yonder plaas. Die bekende pianis Rocco de Villiers tree ook hiertydens op.



