Charné Cronjé op Saterdagaand 7 September met die twee eerbewyse wat sy ontvang het.

Foto: Verskaf

Charné Cronjé van Kimberley is as ’n finalis in die 2024 Mev. Heelal Suid-Afrika-kompetisie aangewys.

Tydens dié glansgeleentheid op Saterdagaand 7 September in die Protea Hotel Balalaika in Sandton, Johannesburg, het Cronjé boonop twee eerbewyse ontvang: as die publiek se gunsteling, en vir die beste aanbiedingsvaardigheid.

“Ek het nog nooit vantevore so trots op myself gevoel soos die naweek nie. In die laaste paar maande het ek ongelooflik baie gegroei en dit het eers die naweek ingesink.”
Charné Cronjé

Só kon sy byvoorbeeld nie voorheen voor ’n groep mense praat nie, maar in die afgelope ses maande het sy tydens 12 geleenthede met vertroue voor skares gepraat.

Cronjé is baie opgewonde oor die reis na die eindronde in Maart, en oor die doelwitte wat sy voor dan wil bereik.

Charné Cronjé van Kimberley is Saterdagaand 7 September as ’n finalis in die Mev. Heelal Suid-Afrika-kompetisie aangewys.

Om doelwitte te bereik, is vir haar ’n bekende terrein: Sy is die eienaar van Mammas 24/7 – die grootste Afrikaanse ouerondersteuningsgroep op Facebook, is ’n berader ná sy haar meestersgraad in Christelike bediening verwerf het, en is met ’n doktorsgraad besig.

Sy is boonop ’n skrywer, en benewens die voortdurende betrokkenheid by elke plasing op Mammas 24/7, het sy vir Carpe Diem en die vrouetydskrif Finesse geskryf. Sy was ook die mede-redakteur vir Goue Munt, ’n gratis geselstydskrif wat in Kimberley versprei het. Voorheen was sy ook ’n vryskutdosent vir studente in die bediening.

Die middelpunt van Charné Cronjé se lewe: haar seun Kayden, man Rudi en dogter Makayla.

Bo dit alles is sy ’n eggenote en maat vir haar man, Rudi, en die ma van twee kinders, Makayla en Kayden, wat vanjaar in gr. 4 en gr. 6 is.

‘Drome vir ’n rede in jou hart’

Cronjé se passie om individue te lei en bemagtig het meegehelp dat die Mev. Heelal Suid-Afrika-kompetisie haar “geroep” het, en sy om “elke hoek en draai” ’n inskrywingsvorm daarvoor gesien het.

“Later kon ek nie meer weghardloop daarvan nie,” vertel Cronjé wat nog nooit voorheen belanggestel het om vir so iets in te skryf nie.

Haar grootste doelwit wat sy deur deelname aan die kompetisie wil bereik is om vir vroue te wys dat bemagtiging binne bereik is.

“Elkeen is uniek en elkeen het iets om te bied. Jy is waardevol, jy is genoeg! Moenie in jou vermoë twyfel nie. Drome is vir ’n rede in jou hart en jy moet gehoorsaam wees en dit nastreef.”
Charné Cronjé

Vir haar eie menswees was die deelname tot dusver uiters positief.

“Ek het baie geleer oor selfvertroue; dit is iets wat ek al my lewe lank mee sukkel. In die kompetisie is daar nie tyd om in jouself te twyfel nie. Alles gebeur so vinnig en dan kom selfvertroue onverwags en vanself.”

In dié reis word ’n susterskap met mede-deelnemers gevorm, en Cronjé het opnuut bewus geraak van die impak wat elkeen kan hê deur sy stem te gebruik.

Charné Cronjé tydens ’n uitreik-aksie.

Die skrikwekkende en kommerwekkende syfers van huishoudelike geweld en mishandeling is ook ’n aspek wat sy aanspreek.

“Mense is so bang om uit te praat, veral oor die gevolge wat hulle dalk mag beleef of die oordeel wat hulle van ander mag ontvang. Hierdie siklus moet gestop word. Ons moet fokus om saam te werk om dit te bekamp en om slagoffers ‘n veilige spasie te gee om hul waarheid te deel.”

Deel daarvan om dié doelwit te bereik, is om noue bande met Caritas Gemeenskapsfokus te vorm.

‘Hartswens om altyd verskil te maak’

Dié Mammas 24/7 Facebook-blad het Cronjé ongeveer 12 jaar gelede oorgeneem, in die jaar toe haar dogter gebore is.

“Ek is dankbaar vir die meer as 150 000 mammas wat dit volg en wie deur die jare mekaar bystaan, ondersteun, raad gee en bemoedig.

“Sonder hulle, wie die plasings lees, sou die blad nie moontlik gewees het nie. Elke share, elke like, elke comment en elke lees van ’n plasing hou die blad aan die gang.”

Charné Cronjé die afgelope naweek in Sandton.

Voorheen het Cronjé vertel dat niemand weet hoe om die perfekte ma te wees nie, maar met ander se ondersteuning, raad en bemoediging kan jy die beste moontlik vir jou kind doen.

“My hartswens met Mammas 24/7 was en sal altyd wees om ’n verskil te maak, om mense se harte aan te raak, al is dit hoe klein.”

Hulp vra ‘dapper stap vorentoe’
Oor haar beradingsrol, as CC Counselling, beklemtoon sy dat om hulp te vra, ’n dapper stap vorentoe is. Haar geloof is ’n goue draad deur alles wat sy aanpak.

Die grootste kwelpunte waarmee vroue worstel sluit dikwels emosionele uitdagings in soos selfbeeld, spanning, en die druk om alles te balanseer. Meer en meer vroue twyfel in hulself, en in hul waarde.

“Hulle voel net nie genoeg nie. My raad aan hulle is om hulself genoeg tyd en ruimte te gee vir selfsorg, om ondersteuning te soek by ander vroue, en om nie te huiwer om hulp te vra nie.

“Dit is belangrik vir vroue om hul eie behoeftes te erken en te prioritiseer te midde van al die verantwoordelikhede wat hulle hanteer.”

Volg haar reis

Ongeag soveel spreekwoordelike hooi op haar vurk sê Cronjé dat sy lankal nie meer net 24-uur in ’n dag het nie.

“Soms voel ek dat ek die wêreld se tyd het; en ook dat ek nie genoeg doen nie. Ek dink dit is die rede hoekom ek net meer en meer aanpak.

“As iemand sê hulle het nie tyd vir iets nie, kan hulle ‘n draai by my kom maak. Maar dis net deur die Here se genade. Wanneer Hy wil hê jy iets moet doen of aanpak, sal Hy die tyd vir jou gee.

“Hy sal seker maak die tyd staan so ’n bietjie stil, spesiaal vir jou, om alles op jou lysie te voltooi.”

Cronjé se doelwitte vir die volgende ses maande, tot die eindronde in Maart, is om by soveel funksies en liefdadigheidsprojekte in Kimberley as moontlik betrokke te raak. Die werwing van borge in haar reis na die eindronde, is nog ’n doelwit.

Volg Cronjé se reis op Facebook by Charne Cronje – Mrs Universe South Africa 2024 Finalist; Mammas 24/7; en Charne Cronje Counselling.

Charné Cronjé

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article