Hy was die hoof by ’n gekombineerde skool met baie uitdagings. Om van gr. 1- tot gr. 12-leerlinge en hul ouers in toom te hou was ’n heeltydse werk.
Hy was bekend daarvoor dat hy dinge op die regte manier gedoen wou hê. Daar was nie tyd om dieselfde ding oor en oor te doen nie.
Sy kommunikasie met leerlinge van alle ouderdomme was besonder goed. Net so met die personeel en ouers. Hy was geduldig, maar streng.
As daar een ding is wat hom grensloos frustreer het, was dit wanneer dinge nie op hul plek gebêre was nie.
Sporttoerusting moes nie buite rondlê nie en wanneer hy klaskamers besoek het, wou hy nie oor skooltasse struikel nie.
Omdat die onderwysers en leerlinge hiervan bewus was, het hulle hul bes gedoen om nie sy geduld te beproef nie.
Dit was ongelukkig nie altyd moontlik nie.
Een oggend, voordat die skoolklok lui vir die juniorfaseleerlinge om aan te tree, het hy vinnig ’n dokument in die kantoor gaan haal. Die kantoor was hierdie betrokke oggend besiger as gewoonlik.
Toe hy die liasseerkabinet wou ooptrek, het ’n grasbesem skuins teen die kabinet se voorkant gerus. Hy het ongeduldig rondgekyk.
“Wie se besem is hierdie?” het hy streng gevra en die onderwyseres langs hom aangestaar.
Sy het haar kop geskud.
“Nie myne nie, meneer,” het sy kalm geantwoord.
“Ek het myne vandag buite parkeer.”

