Bergfietswedren by Augrabies gooi avontuur oop vir jonger deelnemers

,

Die Trans Augrabies MTB-wedren vind op 14 en 15 Junie in Augrabies plaas. Behalwe die langer wedren van 172km word ‘n mini-wedren ook aangebied.

Fietsryers tydens 'n vorige jaar se Trans Augrabies MTB-wedren

‘n Mini-fietswedren vind vanjaar as deel van die jaarlikse en veel langer Trans Augrabies MTB-wedren plaas.

Hierdie mini-wedren, wat oor twee dae in skofte plaasvind, is geskik vir hoërskoolleerlinge, diegene wat vir ontspanning fietsry en avontuursoekers wat hulself geestelik vir die volle wedren vir ‘n volgende jaar wil voorberei.

Die mini-wedren, asook die oorspronklike en langer wedren, vind op 14 en 15 Junie in die Augrabieswaterval- Nasionale Park en omgewing plaas.

‘n Algehele afstand van 172 km word in die langer wedren gedek. Op dag een pak bergfietsryers 82km en ‘n gradiënt tot op 1 167m aan, terwyl veldfietsryers 118km en ‘n gradiënt van 967m aanpak.

Op dag twee lê berg- en veldfietsryers ‘n afstand van 90km af, met ‘n gradiënt van onderskeidelik 962m en 877m.

Fietsryers in Augrabies
Fietsryers tydens ‘n vorige Trans Augrabies MTB-wedren. Foto: Facebook/Trans Augrabies MTB Stage Race – SA

Die mini-wedren dek ‘n afstand van 30km en ‘n gradiënt van 366m op dag een. Op dag twee wag ‘n afstand van 35km en ‘n gradiënt van 488m.

Volgens die organiseerders sal fietsryers ‘n streek van Suid-Afrika beleef wat onlangs onder die tien top-avontuurbestemmings genoem is. Temperature wat wissel van 4 grade celsius tot 26 grade celsius kan verwag word.

Altesaam 10% van alle inkomste wat uit inskrywings ontvang word, gaan na die Red ‘n plaas, red ‘n gemeenskap-veldtog.

Hierdie rampfonds fokus daarop om landelike gemeenskappe by te staan ​​wanneer natuurrampe in die Noord-Kaap plaasvind.

Vir meer inligting, besoek transaugrabies.co.za of besoek die Facebook-blad.

You need to be Logged In to leave a comment.