Bergfietsren gehou

Meer as 500 bergfietsryers sal ten tyde van die Kelrn MTB Classic-bergfietswedren die speke laat sing.


Meer as 500 bergfietsryers sal ten tyde van die Kelrn MTB Classic-bergfietswedren die speke laat sing.

Dit word op 27 en 28 Oktober by Kelrn-vervoer se plaas Holsdam by Barkly-Wes aangebied.

Gesamentlike prysgeld van R50 000 is op die spel.

Die wedren het die afgelope paar jaar in gewildheid toegeneem.

In 2013, toe dié wedren die eerste keer aangebied is, het skaars 137 fietsryers deelgeneem. Deesdae trek dit fietsryers van die uithoeke van die land, met sowat 500 mense wat op vanjaar se geleentheid verwag word.

Die bergfietswedren word elke jaar saam met die Koeistal-Kersmark gehou, waarop ’n ver­skeie handgemaakte geskenke en kunswerke te koop sal wees, asook ’n teetuin vir diegene wat na ’n ontspannende dag op die oewer van die Vaalrivier uitsien.

Die wedren word jaarliks ten bate van kindersorg aangebied en het die afgelope paar jaar aansienlike bedrae vir hierdie doel ingesamel.

Vanjaar is die doelwit om saam met die 110 borge van die wedren meer as R600 000 vir kindersorg in te samel.

Vanjaar kan deelnemers kies om aan die 12 km-, 30 km of 60 km-wedren deel te neem.

Terwyl die 12 km-wedren veral gewild is onder kinders jonger as 12 jaar en volwassenes wat nie gereeld fietsry nie, is die 30 km by verre die gewildste afstand.

Die 60 km-wedren is vir die ernstiger en professionele fietsryers en fiksheid sal beslis ’n rol speel.

Daar is vanjaar ook ’n 10 km-veld­wedloop.

Besoek Kelrn MTB Classic-bergfiets­wedren se Facebook-blad of www.kelrnmtb.net vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.