Verskeie veldbrande het die naweek in die Noord-Kaap gewoed.
Brandbestryders het teen Maandagmiddag (29/08) steeds gespook om ’n brand wat Sondag by Hartswater uitgebreek en oor sowat 20 km gewoed het, te blus. Hulle kon dit omstreeks 05:00 in bedwang gebring, maar dit het later weer opgevlam toe die wind draai.
’n Brand wat Saterdag digby Kimberley gewoed het, is met die samewerking van die brandweer van die Sol Plaatje-munisipaliteit en sowat 20 boere met hul eie brandbestrydingstoerusting, asook Transnet en De Beers se brandspanne onder beheer gebring.
Thoko Riet, woordvoerder van die munisipaliteit, sê die brand het uit die rigting van die R31-pad begin en na die R357-roete, tussen Kimberley en Douglas, en die N12 versprei.
Riet sê die brandbestryders kon daarin slaag om die brand naby korrektiewe dienste te blus.
Die brand het ook gevaarlik naby aan die Wes-Einde-psigiatriese hospitaal gewoed.
Adam Myburgh, hoof van die brandweer in Kathu, sê daar is groot lesse uit die verwoestende brande van verlede jaar geleer.
“Ek is baie trots op ons boere en lede van die gemeenskap wat hul samewerking gee en ook merkwaardige werk gedoen het om brandbestrydingstoerusting op te gradeer en te verbeter.”
Hy sê die brande wat tot dusver in die gebied uitgebreek het, word baie gou onder beheer gebring danksy die goeie samewerking en paraatheid van die gemeenskap.
Zandisile Luphahla, woordvoerder van die Noord-Kaapse landboudepartement, sê die departement het vanjaar vooruit vir die brandseisoen beplan.
“Daar was reeds ’n paar brande, maar omdat ons met die departement van samewerkende regering se rampbestuurafdeling saamwerk, kon ons daarin slaag om finansiering te kry om boere by te staan wat weiding en vee verloor het.”
Hy sê geld is verkry om boere onmiddellik by te staan as nog brande uitbreek.
“Ons het verskeie veldtogte gedoen om boere en gemeenskappe op te lei om veldbrande te bestry en om hulle op hoogte van uitbrekings te hou.”
Luphahla sê die departement werk nou saam met organisasies soos die Dierebeskerming- en brandbestrydingsverenigings.
“Ons wil dit tot elke prys verhoed dat die Noord-Kaap weer ’n ramp soos verlede jaar beleef. Tot dusver werk hierdie samewerkingsooreenkomste uitstekend.”


