Suid-Afrikaners het hierdie naweek, op Saterdag en Sondag van 08:00 tot 17:00, die geleentheid om te registreer om in volgende jaar se nasionale en provinsiale verkiesings te kan stem, terwyl diegene wat reeds geregistreer is, hul besonderhede kan nagaan om seker te maak dat hulle in die regte kiesafdeling kan stem.

Waarom moet ek registreer?

Indien jy nie geregistreer is nie, kan jy nie jou demokratiese reg uitoefen om tydens die verkiesing vir die politieke party van jou keuse te stem nie.

Deur te registreer, word jou naam op die kieserslys geplaas.

Kiesers mag slegs stem in die kiesafdeling waar hulle geregistreer is, tensy spesiale reëlings met die Verkiesingskommissie (OVK) getref is. Dit is daarom belangrik om jou besonderhede op die kieserslys na te gaan, veral indien jy sedert die vorige verkiesing verhuis het.

Wanneer is die verkiesing in 2024?

Die 2024-verkiesing moet tussen Mei en Augustus plaasvind. Die presiese datum of datums sal vroeg in 2024 deur die president aangekondig word.

Wie mag registreer en wat is nodig om dit te kan doen?

Alle Suid-Afrikaanse burgers wat 18 jaar of ouer is, mag stem. Suid-Afrikaanse burgers wat 16 jaar oud is mag reeds registreer, maar mag eers stem wanneer hulle 18 jaar oud is.

Om te kan registreer, het jy ’n Suid-Afrikaanse identiteitsdokument (ID) nodig, en moet ’n adres verskaf word, of ’n beskrywing van waar jy woon sodat die OVK jou in die regte wyk en distrik kan indeel.

’n Bewys van woonadres is nie nodig nie.

Diegene wat nie ’n Suid-Afrikaanse ID het nie, kan so gou moontlik vir een aansoek doen. Om Suid-Afrikaners hiermee te help, sal die kantoor van binnelandse sake ook tydens die registrasienaweek oop wees.

Wanneer vind die eerste registrasienaweek plaas?

Die eerste registrasienaweek vind op Saterdag 18 November en Sondag 19 November vanaf 08:00 tot 17:00 by duisende stemlokale oor die land heen plaas.

Gaan daar nog ’n registrasienaweek wees?

Ja, maar die datum hiervan is nog nie bekend nie.

Mense sal egter nie meer mag registreer wanneer die kieserslys sluit nie. Die kieserslys sal om 17:00 sluit op die dag waarop die president amptelik die datum vir die verkiesing bekendmaak.

Reeds geregistreer? Gaan só jou besonderhede na:

  • Besoek die skakel op die OVK se webtuiste;
  • stuur ‘n SMS met jou ID-nommer na 32810 (teen R1 per SMS); of
  • besoek die naaste OVK-kantoor.

Registreer só:

’n Suid-Afrikaanse burger kan op een van drie maniere registreer:

1. Aanlyn

Besoek die OVK se webtuiste by hierdie skakel om aanlyn te registreer.

2. Besoek die stemlokaal in jou wyk

Vind uit waar jou stemlokaal is.

3. Besoek jou naaste OVK-kantoor tydens kantoorure

You need to be Logged In to leave a comment.