Die verhoor van die vermeende Hollanders-bendeleier George Peters, ook bekend as Barney, en 15 ander gaan met horte en stote in die hooggeregshof in Kimberley voort. Hulle staar altesaam 117 aanklagte van onder meer moord, poging tot moord, geldwassery en bedrog in die gesig.
Peters het verlede week ‘n brief van 18 bladsye aan die hof laat voorlees waarin hy homself as “onskuldig” en ‘n “Godvresende man” beskryf, asook ‘n man wat sy kinders “leer om die regte ding te doen”. Hy is glo ‘n rolmodel en het geen tatoeëermerke nie, en vereenselwig hom nie met die nommers (bendes) nie. Peters het sy simpatie getuig teenoor die naasbestaandes van die slagoffers van sy beweerde dade.

Die verhoor is Maandag 13 Oktober vertraag weens een van die regsgeleerdes se ongesteldheid.
Peters het in sy brief aangevoer sy kinders (waarvan hy glo meer as 30 het) is deur die inhegtenisname en aanhouding “verneder”. Hy het een van sy voormalige vroue van ontrouheid met ‘n polisieman beskuldig, en die aanklagte teen hom daaraan toegeskryf.
Dit blyk dat vyf van sy vroue wat saam met hom aangekla word, nie meer met hom verbind wil word nie. Joernaliste is aangesê om nie meer na hulle as sy vroue te verwys nie. Hulle het ook die tatoeëermerke “Barney’s Property” op hul gesigte met grimering verbloem.
Peters het die hof verlede versoek dat die vroue en ander medebeskuldigdes hom moet “respekteer” en dat hy nie saam met sommige van die gevangenes na die hof vervoer wil word nie.
Beskuldigdes van etlike bendeverwante voorvalle verdink
Sy mede-aangeklaagdes is Britney Arends, Stephanie Mcanda, Simone Rose, Chinaaz Mentoor, Abagail van Wyk, Chane Adams (die enigste wat nog as een van sy vroue assosieer), Micheal Peters, Clive Peters, Deon May, Parmeston Mentoor, Henry Blom, Vincent Rosen, Tshepo Malambi, Nico Hofuza en Shawn Smith. Drie van hulle is op borgtog vrygelaat. Een beskuldigde, Thabo Sekapano, is intussen oorlede.

Hulle word gesamentlik of afsonderlik verdink van etlike bendeverwante voorvalle van Augustus 2020 tot Februarie 2023 in Kimberley en Kuruman. Hulle het glo geld uit dwelmhandel gemaak en die vroue is glo as dwelmmuile gebruik.
Peters se aartsvyand is glo Roger Johnson, vermeende leier van die Madpacks-bende.
In die een voorval voer die staat aan dat Peters en ander beskuldiges op 21 Augustus 2020 na die Roodepan-polisiekantoor gegaan en ‘n vuurwapen op ‘n polisieman gerig en geëis het dat hy twee van Peters se familielede wat in aanhouding was, vrylaat. Ene Felicia Peters en Shakeerah Pike was ook betrokke.
LEES OOK: Sewe vermeende ‘Barney’ vroulike bendelede versteek glo vuurwapens in polisievangwa
Ene Shirley Hofuza en Felicia het glo in opdrag van Peters en in samewerking met Van Wyk en Adams vir Johnson op 23 Desember 2020 by die Kimberley landdroshofgehou geskiet waar Johnson in ‘n hofsaak verskyn het. Johnson het oorleef. Hofuza het haarself oorgegee en dien reeds ‘n vonnis uit.
Op 17 Junie 2021 het Peters en ‘n paar van sy makkers in ‘n minibus na Demeon Hannie, ‘n assosiaat van Johnson, se woonstel in Roodepan gery met die doel om hom na bewering te vermoor. Die mans het glo skote in Hannie se woonstel en aangrensende woonstelle afgevuur en die vuurwapens aan die vroue oorhandig. Polisielede het die groep voorgekeer, en die vroue in ‘n aparte vangwa gelaai. Die vroue het die vuurwapens glo in die vangwa versteek, waar die polisie dit later gevind het.
Getuies kruisondervra

Die eerste getuie, sers. Daniel Mogamisi, is deur adv. Vasiliki Patrinos, namens Peters kruisondervra. Die sersant hou vol dat Peters op die dag wat hy sy broer uit die aanhoudingselle by die polisiekantoor in Roodepan wou ontset, aggressief was. Hoewel Peters ongewapen ingekom het, het iemand ‘n mes aan hom gegee.
Patrinos het aangevoer dis ondenkbaar dat Peters wat in ‘n minibus met vroue en kinders daar aangekom het, aggressief sou wees teenoor gewapende polisielede. Hy wou net navraag oor sy broer doen.
LEES OOK: Barney bekla sy lot in hof oor ‘opgemaakte stories van getuies’
Nog ʼn getuie, ao. Nonoto Maretela van die forensiese eenheid, het getuig oor hoe sy die vuurwapens in die polisievoertuig afgeneem en in bewysstuksakke verseël het. In Julie 2021 is sy na die Alice-woonstelgebou in Roodepan ontbied waar sy etlike 9mm patroondoppies en fragmente op die trappe en gang voor een van die woonstelle gevind het, vyf koeëlgate in die voordeur asook koeëldoppies en fragmente in die vertrekke van die woonstel. Nog bewysmateriaal is buite aan die agterkant van die woonstel op die grond gevind.
Die verhoor duur voort.





You must be logged in to post a comment.