George Peters, oftewel Barney, vermeende berugte leier van die Hollanders-bende in Kimberley en Kuruman, se sitplek as beskuldigde nommer een in die hooggeregshof in Kimberley was Dinsdag 21 Oktober vir ʼn tweede dag leeg nadat hy Vrydag uit die verhoor verwyder is.
In die deelsverhoor wat sonder hom voortgaan, het ‘n polisielid van die Roodepan-polisiekantoor Dinsdag onder kruisondervraging ‘n toegewing oor ‘n voorval gemaak waarin vier vuurwapens gevind is.
Peters se afwesigheid volg weens sy dwarstrekkerige gedrag en dreigement dat die verhoor nie sal voortgaan voordat hy nie sommige van sy meer as 30 kinders gesien het nie. Vroeër in die deelsverhoor wat vir drie weke geskeduleer is, is die lei van getuienis vir twee dae vertraag omdat hy ‘n brief van 18 bladsye in die rekord wou laat lees en tolk, waarin hy sy onskuld bepleit en homself as ‘n Godvresende man beskryf en wat sy kinders van reg en verkeerd leer.
Hy het gesê hy “weier” om verder na ander mense (getuies) se “stories” in die hof te luister. Peters is uit die verhoor verwyder nadat die staat weens sy ontwrigtende gedrag ‘n suksesvolle aansoek ingevolge Art. 159 van die Strafproseswet gebring het. Die aansoek is deur die meerderheid medebeskuldigdes gesteun.
LEES OOK: Bendeleier ‘Barney’ sê hy is ‘n ‘rolmodel, onskuldig’ en ‘het geen tatoeërmerke’
Stanton het beveel dat elke dag se verhoortranskripsie aan Peters verskaf word, en lede van Korrektiewe Dienste sal hom help om dit te lees. Voorts sal Regshulp Suid-Afrika en maatskaplike werkers ondersoek instel of die kinders hom wil en mag sien.
Maandag toe hy gevra is of hy weer in die verhoor wil sit en hom sal gedra, het hy gesê hy bly eerder onder in die selle.
Beskuldigdes 117 aanklagte teen hulle
Peters en sy 15 medebeskuldigdes word gesamentlik of afsonderlik verdink dat hulle by etlike bendeverwante voorvalle vanaf Augustus 2020 tot Februarie 2023 in Kimberley en Kuruman betrokke was. Hulle het glo geld uit dwelmhandel gemaak en die vroue glo as dwelmmuile gebruik. Die 117 aanklagte sluit onder meer moord, poging tot moord, bedrog, ontvoering, verkragting, en geldwassery in.
Sy mede-aangeklaagdes is Britney Arends, Stephanie McAnda, Simone Rose, Chinaaz Mentoor, Abagail van Wyk, Chane Adams, Micheal Peters, Clive Peters, Deon May, Parmeston Mentoor, Henry Blom, Vincent Rosen, Tshepo Malambi, Nico Hofuza, en Shawn Smith. Van hulle is Peters se broers, eertydse en huidige houvroue (sister-wives) en vermeende makkers.
LEES OOK: Drama toe ‘Barney’ uit sy eie verhoor gegooi word weens onordelike gedrag
Luidens die akte van beskuldiging het Peters en ʼn klompie makkers op 17 Junie 2021 met ʼn minibus na Demeon Hannie se woonstel in Roodepan gery glo met die doel om hom te vermoor. Die mans het na bewering skote in Hannie se woonstel en aangrensende woonstelle afgevuur en die vuurwapens aan die vroue oorhandig. Die polisie het die groep voorgekeer, en die vroue apart in ‘n vangwa gelaai. Peters en sy manlike makkers het in hul voertuig na die polisiekantoor gery nadat die polisie geen vuurwapens op hulle gevind het nie.
Regte nie voorgelees nie
Sers. Gershan Keeble, daardie aand aan diens in Roodepan, het getuig hoe sy kollega, konst. Sarah Mafay, die sewe vroulike verdagtes by die polisiekantoor vir vuurwapens deursoek het terwyl hy die vangwa bewaak het. Ná die laaste vrou uitgelaat is, het hy drie vuurwapens daarbinne ontdek.
‘n Kollega van die forensiese afdeling het toetse vir kruitstofneerslag op die sewe vroulike verdagtes en Peters se hande gedoen. Dit blyk intussen dat die neerslagtoets vir Peters negatief was.
Hulle het later ‘n vierde vuurwapen onder die bankies in die vangwa onder ‘n blou lap ontdek, asook ‘n sak met patroondoppies. Die vuurwapens, waarvan sommiges gedeeltelik in goud geverf was, is veilig gemaak en in sommige magasyne was patrone. Foto’s is geneem en die vuurwapens en patroondoppies in bewysstuksakke verseël.
Onder kruisondervraging van Daniel Mmutloane, namens McAnda, het Keeble toegegee hy het nie die vroue se regte aan hulle voorgelees voordat hy gevra aan wie die vuurwapens behoort nie. Dit kan hul grondwetlike regte skend. Die vroue is later in hegtenis geneem vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Hy het volgehou die voertuig is deeglik inspekteer vir genoeg olie en water, enige stampmerke of items wat agtergelaat is. Die vereiste vorm is voltooi om die inspeksie te bevestig. Volgens hom is geen mense sedert die aanvang van hul aandskof in die vangwa gelaai nie. Hy het hy ook die vangwa deursoek voordat die vroue daarbinne gelaai is.
Die verhoor duur voort.


