Hoe kosbaar is iemand wat ander mense bemagtig.
Om te help is een ding. Om te bemagtig, iets anders.
Daar is mense wat die verskil tussen hierdie twee begrippe verstaan en toepas.
Om ’n ander in staat te stel om onafhanklik te funksioneer is een van die grootste geskenke wat jy vir iemand kan gee.
Gestel jy haak vas met ’n rekenaarprogram. Gestel daar is iemand wat baie meer as jy van hierdie program weet en bereid is om te help.
Die een wat die hulp verleen, kom voor ’n paar keuses te staan: Óf hulle kan self die probleem oplos deur die sleutelbord oor te neem en bevele in te tik, óf hulle kan vinnig vir jou sê waar om in die program te gaan en watter knoppies om te druk om die probleem op te los.
Of hulle kan seker maak dat jy verstaan hoe die probleem opgelos moet word.
Laasgenoemde sal verg dat die kundige tyd aan jou bestee; jou toelaat om notas te maak en te begryp hoe dit toegepas moet word.
Indien die laaste opsie gekies word, is die kenner besig om jou te bemagtig.
As ’n mens gereeld met dieselfde soort ding werk, vergeet jy soms dat ander mense net nou en dan daarmee werk.
Wanneer iemand bemagtig word, beteken dit dat hulle in die toekoms self die probleem sal kan oplos.
Mag daar ’n magdom mense wees wat hul medemens bemagtig.