Joy Samuels, ’n haarkapper, besig om ’n inwoner in ’n rolstoel se hare te was. Bernadette Louw (links) en René Andenge, versorgers, staan haar by. Samuels sê enige inwoner voel dadelik beter wanneer die hare gedoen en die lippe rooi gemaak is.

Foto’s: Helena Barnard

In dié aftreeoord in Kimberley woon 54 bejaardes, waarvan slegs 17 nog op hul eie kan beweeg; met 14 wat heeltyds in die afdeling vir mense met Alzheimer se siekte versorg word.

Anders as wat baie Kimberliete besef, is die Belgrave Lodge langs Aristotleweg ’n aftreeoord en nie ’n gastehuis nie, vertel matrone Tessa van Wyk. Sy is reeds byna 14 jaar lank hier betrokke.

Sy vertel dat Belgrave Lodge in 1952 deur Harry Oppenheimer as huisvesting vir afgetrede manlike personeel van die myngroep geopen is. Intussen het omstandighede verander, en is die meerderheid inwoners vroue. Ook is die enigste inkomste die huur wat inwoners betaal, en die raad van Belgrave Lodge bestuur dié inkomste so goed as moontlik om die uitgawes te dek.

Tessa van Wyk, matrone van die aftreeoord Belgrave Lodge in Kimberley. Sy staan by die foto’s van die amptelike opening op 3 Junie 1952. Harry Oppenheimer het dit waargeneem.

Dit sluit salarisse vir die personeel en 18 versorgers in; die munisipale rekening vir water en elektrisiteit; maaltye drie maal per dag; asook instandhouding.

“Met genade het ons altyd deurgekom, maar dit raak bykans onmoontlik om al dié uitgawes te dek,” sê Van Wyk, en vertel dat al hoe minder inwoners daartoe in staat is om geldelik by te dra.

Baie behoort nie aan ’n siekefonds nie, en dié wat bedlêend en verswak is, word deur ’n private dokter besoek wie se rekening ook betaal moet word.

Joy Samuels, ’n haarkapper, besig om ’n inwoner in ’n rolstoel se hare te was. Bernadette Louw (links) en René Andenge, versorgers, staan haar by. Samuels sê enige inwoner voel dadelik beter wanneer die hare gedoen en die lippe rooi gemaak is.

Van Wyk sê Belgrave Lodge is intussen reeds as ’n nie-winsgewende organisasie registreer, en is in die proses om die konstitusie te laat wysig sodat dit vir alle doeleindes ’n aftreeoord is.

Behalwe geldelike uitdagings is eensaamheid en isolasie van geliefdes en familie vir talle van hierdie inwoners ’n werklikheid: inwoners wie se kinders hulle net kom aflaai het en nooit kom kuier nie; of wie se kinders in die buiteland woon.

“Ons grootste behoefte is dat mense moet besef Belgrave Lodge is ’n aftreeoord wat hulp nodig het, met talle inwoners wat besoekers sal waardeer.”
Tessa van Wyk

Skenkings van kosprodukte, linne, toiletware en klere sal uiters welkom wees, sê sy.

  • Die raad het onlangs ’n komitee aangewys wie se taak dit is om geld in te samel. Die eerste geleentheid is ’n basaar op 16 Desember van 10:00 tot 17:00. Vir inligting hieroor en om betrokke te raak, skakel 074-681-3623.

You need to be Logged In to leave a comment.