Rooies Strauss, adjunkpresident van #Hope4SA, het tamatiesous oor sy hande in die vergadering in Kimberley uitgegooi en gesê die regering het bloed op sy hande, en het ook die Bela-wetsontwerp verwerp.

Foto: Verskaf

Skriftelike insette kan nog tot 12 Maart oor die voorgestelde Wysigingswetontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) gegee word.

Dié versekering is deur ‘n woordvoerder van die Noord-Kaapse wetgewer gegee ná gemoedere tydens drie openbare sittings oor Bela opgevlam het, en stemmery nie kon plaasvind nie.

Die Noord-Kaapse wetgewer is glo ook besig om deur die opnames van die openbare sittings te werk om te bepaal of bykomende openbare sittings in van dié Noord-Kaapse dorpe moet plaasvind. Volgens die woordvoerder is die openbare sitting in Upington ontbind omdat ‘n vyandige situasie ontstaan het, en die voorsitter wou nie diegene teenwoordig aan ‘n gevaarlike situasie blootstel nie. 

  • Skriftelike insette uit die Noord-Kaap kan aan die komitee-koördineerder, Dennis Fritz, gestuur word by die e-pos adres dfritz@ncpleg.gov.za
  • In Upington kan insette ook gelewer word deur die streekskantoor van die Noord-Kaapse wetgewer by Hillstraat 1 te besoek. 

Belanghebbendes verwerp wetsontwerp in Kimberley

Gemoedere het Woensdag 21 Februarie opgevlam by ’n openbare sitting in die Noord-Kaapse wetgewer in Kimberley waar belanghebbendes kommentaar kon lewer oor die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) berig Charné Kemp.

Die konsepwet stel onder meer voor dat die staat die finale seggenskap oor openbare skole se taal- en toelatingsbeleid kry.

Dit is reeds deur die Nasionale Vergadering aanvaar. Die kommentare in openbare sittings sal na die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) gestuur word om te verwerk.

Altesaam 114 onderwysers, ouers, leerlinge, politieke partylede en ander het die wetsontwerp verwerp, terwyl drie mense ten gunste daarvan gestem het. Nog verhore word in Kuruman, Upington, De Aar en Springbok gehou.

Altesaam 114 mense het op Woensdag 21 Februarie in Kimberley opgestaan in die stemming om aan te dui hulle verwerp die Bela-wetsontwerp.

Gift van Staden, wat as voorsitter van die portefeuljekomitee op onderwys die vergadering gelei het, het probeer om mense te kalmeer wat hom beskuldig het dat hy hulle tyd kortknip, of dat die regering “lieg oor die sogenaamde aborsie-klousule” in die wetsontwerp.

Rooies Strauss, adjunkpresident van #Hope4SA, het tamatiesous oor sy hande in die vergadering uitgegooi en gesê die regering het bloed op sy hande. Volgens hom wil die regering die ouers se reg wegneem om hul 12-jarige swanger leerling by te staan.

Rooies Strauss, adjunkpresident van #Hope4SA, het tamatiesous oor sy hande in die vergadering in Kimberley uitgegooi en gesê die regering het bloed op sy hande, en het ook die Bela-wetsontwerp verwerp.

“Nou kan ’n kind met die regering se hulp self besluit op ’n aborsie,” sê hy.

Strauss is deur ander lede van die organisasie in hul kommentaar ondersteun, wat gesê het godsdiensonderrig moet weer in skole gedoen word om morele verval te stuit.

“Julle het nie eens skoolbeheerliggame na die openbare verhoor genooi nie. Niks in die wetsontwerp beskerm onderwysers wat deur kinders gedreig en bedreig word nie. En wat gebeur wanneer ’n kind beskerming benodig, want die departement wil nie verantwoordelikheid neem nie. Ek vervloek die wetsontwerp.”
Adv. Schalk Strydom, wie die wetsontwerp verwerp het

Nog ’n beswaar was teen die moontlike sluiting van sogenaamde mikroskole wat as onwettig beskou word omdat hulle nie aan die registrasiestandaarde van groot skole voldoen nie.

Neeresh Badal, van die Let’s do it 2gether 4 EDUCATION, het ’n dik lêer met sy kommentaar ingedien. Hy sê mikroskole is geen kompetisie vir groot onafhanklike of openbare skole nie.

“Hulle kan dit ook nie vervang nie. Ons is in die vyfde industriële rewolusie wat ’n digitale rewolusie is. Miljarde mense gebruik tegnologie. Vanjaar se kinders is die Gen Alpha-generasie, 2025 is die Gen Beta-leerlinge. Dit is nie regverdig om kinders in skole te sit wat nie aan die moderne era se behoeftes voldoen nie. Ons vra dat die privaatskoolsektor uitgebrei word in die nuwe wetsontwerp om opvoedingsgeleenthede uit te brei.”

“Klein skole en plaasskole kan daarom nie gesluit word nie. Dit is waar kinders veilig voel, dit is die kern van die gemeenskap.”
Zerbale Kgomongae, wie gesê het daar is reeds te min skole met te veel leerlinge per klas.

Volgens Carita Visser, regsbeampte van Fedsas, verwerp hulle die taal- en toelatingsbeleid soos voorgestel in die wet.

“Die departementshoof ontneem die beheerliggaam se diskresie om handboeke en ander materiaal te koop, terwyl sommige departement nie eens handboeke aan skole kan uitdeel nie. Heelwat skole is meer ingelig oor watter materiale leerlinge benodig as amptenare. Ongelukkig is daar baie ongerymdhede by departemente in aankoopprosesse.”

‘Chaos’ ook in ander Noord-Kaapse dorpe

Chaos het Donderdag 22 Februarie in die stampvol Piet Thole-gemeenskapsaal in Upington ontstaan, berig Anena Burger.

Die openbare sittings oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) is hier gehou.

Die DA in die Noord-Kaap sê hy is diep gekwel oor die swak hantering van die openbare sittings en die chaotiese manier waarop dit plaasgevind het.

“Dit is duidelik dat die meeste Noord-Kapenaars gekant­ is teen hierdie poging om skoolbeheerliggame en ouers van hul regte te stroop,” sê dr. Isak Fritz, DA-premierskandidaat vir die Noord-Kaap.

Hy sê die openbare sitting in Upington is Donderdag deur ’n klein groep ontwrig.

“Dit het veroorsaak dat lede­ van die publiek hul reg ontneem is om oor die wetsontwerp te stem, al was verreweg die meeste van die teenwoordiges sterk daarteen gekant.”

Dit was egter glo ook die geval in De Aar toe die openbare sittings Donderdag daar gehou is, en Woensdag in Kuruman­, sê Fritz.

In Kuruman het daar ook geen stemmery plaasgevind nie weens die algehele chaos wat in die sitting uitgebreek het.Hy sê die DA stel nou ondersoek in na die beweerde versuim om effektiewe openbare deelname in Upington, Kuruman en De Aar te bewerkstellig.

“Ons wil spesifiek weet waarom die vergaderings ontbind is voordat lede van die publiek oor die wetsontwerp kon stem. Ons gaan hierdie kwessie dringend met die provinsiale wetgewer bespreek.”

Fritz sê daar kan geen sprake van demokratiese openbare prosesse wees wanneer mense se sienings bloot geïgnoreer word nie.

Volgens ouers van Upington wat Donderdag die sittings bygewoon het, was dit veral ANC-raadslede wat die verrigtinge probeer omverwerp het deur mense wat standpunte wou stel, stil te skree.

“Sodra iemand iets wou sê wat net effens teen die Bela-wetsontwerp was, is daardie mense stilgeskree.

“Dit het ’n hengse ontwrigting veroorsaak en daar kon op die ou end nie tot ’n stemming oor die wetsontwerp oorgegaan word nie,” het ’n ouer gesê wat anoniem wil bly.

Die openbare sitting het Vrydag in Springbok voortgegaan, en dit blyk dat dit daar sonder enige probleme verloop het.

Donne-lee Jano, van die Namakwa Civic Movement, sê die voorsitter van die byeenkoms het egter die verrigtinge begin deur te verwys na die voorval in Upington en gesê die openbare sittings “is nie ’n politieke aangeleentheid nie”.

Daar is glo gesê die sitting in Upington het in ’n poli­tiekery ontaard en dat dit kommerwekkend is as daar van die toekoms van kinders ’n politieke speelbal gemaak word.

You need to be Logged In to leave a comment.