Vrystaatse boere is bekommerd omdat bek-en-klouseer vinnig versprei en nog nie onder beheer is nie, sê Jess de Klerk, ’n verteenwoordiger van Saai in die Vrystaat.

De Klerk sê boere is veral bekommerd oor die vinnige verspreiding omdat dit baie lank neem voordat die uitslae van laboratoriumtoetse beskikbaar is.

Digby die Noord-Kaap-grens, by Hertzogville, is 15 positiewe aanmeldings op een plaas by ’n boer bevestig wat die buurman van ’n veespekulant is. Die uitslae van nuutste toetse wat hier gedoen is, is nog nie beskikbaar nie, sê Gys Olivier van die plaaslike boerevereniging.

De Klerk sê dit is kommerwekkend dat daar veeboere is wat nie besef dat mense se klere en skoene die virus kan versprei nie, terwyl die dieregesondheidsforum in die Vrystaat ’n dokument met maatreëls uitgereik het.

Boere word aangeraai om streng biosekuriteit toe te pas – selfs al is hulle nie in kwarantyngebiede nie.

Veeboere moet die toegang tot plase beperk en voertuie en mense moet ontsmet word.

Boere moet net een werker per trop vee gebruik en nie werkers tussen plase laat beweeg nie.

Honde moenie by vee toegelaat word nie omdat die honde die virus tussen kuddes kan versprei.

Hertzogville is een van vyf gebiede in die Vrystaat wat onder kwarantyn is.

Alet van der Walt

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article