Ridwaan Smith (DA-raadslid) saam met lede van die gemeenskap by die oorstroomde duikweg waar ’n 67-jarige vrou vandeesweek verdrink het.

Foto: Verskaf

Blomkranse is by die oorstroomde duikweg in De Aar gelê waar ’n 67-jarige vrou vroeër die week verdrink het.

Die slagoffer, wat aan Alzheimer se siekte gely het, het die duikweg in Phillipstownweg te voet binnegegaan.

“Onder normale omstandighede is dit ‘n gewilde deurgang vir voetgangers, maar tans skep dit ‘n dodelike gevaar. Sy is nie die eerste mens om in dié duikweg te verdrink nie,” sê Ridwaan Smith, DA-raadslid van die Emthanjeni-munisipaliteit.

Dié party het Donderdag (08/12) die kranslegging behartig.

Smith sê sedert die duikweg ongeveer drie weke gelede oorstroom het, het hy voortdurend druk op die munisipaliteit geplaas.

“Ek het persoonlik met die munisipale bestuurder gepraat en talle e-posse gestuur waarin versoek word dat die duikweg dringend dreineer word. Die munisipale bestuurder het uiteindelik aangedui dat die munisipaliteit vir ’n maatskappy van Kimberley wag om die duikweg te dreineer aangesien die kontrakteur van Bloemfontein, wat normaalweg die taak verrig, nie beskikbaar is nie. Ons wag nou nog,” sê Smith.

Die party sê die gemeenskap is kwaad en sê dié verdrinking kon verhoed word indien die munisipaliteit vroeër die oorstroming van die duikweg aangespreek het.

Weens die oorstroomde duikweg moet pendelaars en mynvragmotors wat van Louisvale se kant kom, ‘n lang ompad ry om in die dorp te kom.

Intussen kruis voetgangers die spoorlyn om by die dorp uit te kom, wat ‘n verdere risiko inhou. Kinders wat in die duikweg swem moes ook al deur die polisie versoek word om dit nie te doen nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article