Die Sol Plaatje-belastingbetalers-vereniging oorweeg ’n interdik teen die inwerkingstelling van die Sol Plaatje-munisipaliteit se aanvaarde begroting vir die 2022-’23-geldjaar.
Dit volg op die goedkeuring van die begroting verlede week op ’n raadsvergadering in Kimberley waar die gemoedere hoog geloop het.
Die nuwe tariewe tree op 1 Julie in werking. Die belastingsbetalers-vereniging voer aan amptenary en raadslede het ingevolge wetgewing nie ’n deeglike proses van openbare deelname in elke wyk gevolg nie.
Die begroting se tariefverhogings van 4,5%, deur die bank, is deur die ANC, Good en PA aanvaar, maar die EFF, DA en VF Plus het kapsie gemaak. Dié eenvormige tariefverhoging is ná toegewings in die raadsvergadering aanvaar.
Die aanvanklike tariefverhogings was 6,82% vir elektrisiteit, 5,68% vir water en 4% vir riolering, vullisverwydering en erfbelasting.
“Dit kan eers bepaal word wanneer die munisipaliteit die begroting publiseer. Die tariewe en nuwe heffing is gegrond op ’n bedenklike koste-van-verbruik-studie wat die munisipaliteit laat doen het,” sê Mosikare.
“Ek dink amptenary gee voor dat hulle openbare vergaderings met inwoners hou voordat die begroting gepubliseer word. Dis vrugteloos, want genoeg openbare vergaderings is nie voor die aanvaarding van die begroting gehou nie.
“Hulle was verplig om die voorgestelde begroting en nuwe tariewe aan die hand van die geïntegreerde ontwikkelingsplan (IDP) en diensleweringsplan aan inwoners te verduidelik. Die konsepbegroting is sonder die IDP gepubliseer, in weerwil van die Wet op die Bestuur van Munisipale Finansies.”
’n Vergadering oor ’n moontlike interdik teen die inwerkingstelling van die begroting is vir Woensdag (15/06) beplan.
“Dit is hoogs onwaarskynlik dat Nersa die nuwe tariewe sal goedkeur sonder genoegsame openbare deelnameprosesse. Die munisipaliteit se onaanvaarbare energieverliese van 26,8 % is heelwat meer as die 10% wat Nersa toelaat.
“Ek het ’n brief aan Nersa geskryf waarin ek hulle vra om teen die munisipaliteit op te tree. Die munisipaliteit, wat nie behoorlik energieverliese beperk of skuld invorder nie, skuld meer as ’n halfmiljard aan Eskom,” sê Mosikare.
Intussen sê die munisipaliteit André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, se bewering dat die munisipaliteit van die hoogste winsmarges op elektrisiteitstariewe hef, is onwaar. Thoko Riet, woordvoerder, sê die winsmarge van 121% is slegs ’n bewering.
“Ons winsmarge is 65% tot 68%. Ons moet ’n hoë winsmarge hef omdat staatsubsidies nie genoeg is om armes se verbruik te dek nie, en ander groot verbruikers word ook verkeerdelik gesubsidieer.”
Sy sê hulle het in Mei sowat R50 miljoen aan agterstallige skuld aan Eskom betaal.
Heinrich Pieterse, DA-raadslid, sê inwoners is nie behoorlik ingelig nie.
“Vergaderings wat wel gehou is, is afgejaag. Niemand kon die koste-van-verbruik-studie behoorlik bestudeer en bespreek nie,” sê Pieterse.
“Die munisipaliteit het toegegee dat die vergaderings gebrekkig was. Die munisipaliteit moet ’n volblad-advertensie publiseer waarin hulle die IDP, begroting en tariefbepaling in leketaal verduidelik.”
Kobus van den Berg, VF Plus-raadslid, sê die nuwe beleid “waarin dit te maklik geraak het om van erfbelasting vrygestel te word,” is onaanvaarbaar.
“Dit beteken geld word op ander plekke verhaal. Getroue belastingbetalers word uitgeput en nuwe beleggers afgeskrik.”


