Lugfoto van strate in Upington
‘n Deel van Schröderstraat (heel links) in Upington. Foto: Upington Information

Tensy die omstrede en “bedrieglike” naamsverandering van een van Upington se oudste strate nié suksesvol gekeer word nie, heet Schröderstraat in dié Noord-Kaapse dorp voortaan Alfred Qayiso Gubelastraat.

Ná die besluit om die straatnaam wel te verander vandeesweek tydens ‘n raadsvergadering deurgedruk is, het die DA ‘n bedrogklagte teen die burgemeester, speaker en dorpsbestuurder by die polisiestasie in Schröderstraat ingedien.

” ‘n Totaal van 7 055 handtekeninge is téén die naamsverandering ingesamel. Die gemeenskap se stemme is egter geïgnoreer. In teenstelling hiermee het die ANC slegs 1 317 name op sy petisie wat ten gunste van die naamsverandering is, ingesamel,” sê Henk Opperman, raadslid en DA-sweep in die Dawid Kruiper-munisipaliteit.

Opperman sê die ANC se hantering van sy petisie was in teenstelling met regulasies. Dit is eers die dag van die vergadering ter tafel gelê, en het nie voor die advieskomitee verskyn nie

“Met ondersoek van die ANC-petisie is bewyse gevind dat die petisie bedrieglik is. Dit bevat byvoorbeeld die naam van ‘n oorlede persoon wat aan die DA bekend is. Dit bevat ook gemanipuleerde data van DA-vorms.”

Opperman sê omdat David Kazi, burgemeester, toegelaat het dat dié petisie voor die raad dien, is bedrogklagte ook teen hom ingedien.

“Dit word toenemend duidelik dat die naamsverandering ‘n polities gemotiveerde saak is en die mening van die gemeenskap is geminag.”

LEES OOK: Straat se skielike naamsverandering in Upington teengestaan

Die party bevraagteken ook waarom die munisipaliteit geen poging aangewend het om voorbereidingswerk vir ‘n volledige koste-analise van die naamsverandering te verskaf nie.

Sy volgende stap is om die petisie by die petisiekomitee van die Noord-Kaapse Wetgewer in te dien, en ook ‘n klag by die Noord-Kaapse Geografiese Namekomitee. Nog stappe word oorweeg.

‘Straatnaamverandering ‘n geldelike vermorsing’

Ook Hennie Roux, VF Plus-raadslid, sê die ANC in die Dawid Kruiper-munisipaliteit het dié besluit deurgedruk met totale minagting van die openbare deelnameproses.

“Volgens die ANC is die besluit geneem na aanleiding van die Municipal Advisory Council (Mac) se aanbevelings. Hoe hulle tot dié gevolgtrekking gekom het, is onduidelik. Die openbare deelnameproses se stemme vir en teen die naamsverandering dien as bewys dat die gemeenskap van Upington nie belangstel om die naam te verander nie.”

Volgens Roux is hierdie naamsverandering “niks anders as ‘n opportunistiese poging van die ANC om met die oog op volgende jaar se munisipale verkiesing aansien te herwin aangesien sy prestasies veel te wense oorlaat”.

Inwoners van Upington sukkel daagliks met riool- en diensleweringsprobleme wat soms vir weke ignoreer word. Die gemeenskappe van Klippunt en Kalksloot net buite Upington het byvoorbeeld bykans ‘n week min of geen water nie.

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het vroeër gesê dat die straatnaamverandering ‘n geldelike vermorsing is. Volgens AfriForum sal so ‘n straatnaamverandering aansienlike uitgawes meebring vir die vervanging van padtekens en straatnaamborde; administratiewe uitgawes weens bywerking van amptelike dokumente, registers en databanke; indirekte koste op inwoners en ondernemings wat hul adresse en dokumentasie moet aanpas; en openbare fondse wegneem van noodsaaklike dienste soos riool- en infrastruktuurprojekte.

“Upington het steeds duisende huishoudings wat van die emmerstelsel vir riolering gebruik moet maak. Om in hierdie konteks miljoene rande te bestee aan simboliese projekte, is onverantwoordelik. Hierdie besluit benadeel belastingbetalers direk,” sê Werner Strauss, distrikskoördineerder in die Kalahari.

You need to be Logged In to leave a comment.