‘n Regskwessie wat voorverlede week in die hooggeregshof in Kimberley begin het, het tot verdere regaansoeke gelei wat die aanbied van getuienis met etlike dae vertraag. Dié regskwessie is rakende ‘n vraag of ‘n staatsgetuie in die verhoor van George Peters, ook bekend as Barney en vermeende leier van die Hollanders-bende, mag getuig.
Die verhoor waarin 16 beskuldigdes altesaam van 117 aanklagte van onder meer moord, poging tot moord, bedrog, ontvoering en verkragting aangekla word, sal na verwagting jare duur.
Peters en sy medebeskuldigdes word gesamentlik of afsonderlik verdink dat hulle by etlike bendeverwante voorvalle vanaf Augustus 2020 tot Februarie 2023 in Kimberley en Kuruman betrokke was. Hulle het glo geld uit dwelmhandel gemaak en die vroue blykbaar as dwelmmuile gebruik. Die 117 aanklagte sluit onder meer moord, poging tot moord, bedrog, ontvoering, verkragting, en geldwassery in.
Sy mede-aangeklaagdes is Britney Arends, Stephanie Mcanda, Simone Rose, Chinaaz Mentoor, Abagail van Wyk, Chane Adams, Micheal Peters, Clive Peters, Deon May, Parmeston Mentoor, Henry Blom, Vincent Rosen, Tshepo Malambi, Nico Hofuza, en Shawn Smith. Van hulle is Peters se broers, eertydse en huidige houvroue en vermeende makkers.
Peters is vroeër uit die verhoor verwyder weens sy ontwrigtende gedrag nadat die hof oor twee dae moes luister hoe sy brief waarin hy sy onskuld bepleit, voorgelees en getolk word.
Kapsie gemaak oor staatsgetuie
Adv. Jacques Rosenberg, aanklaer, het verlede maand vir Demeon Hannie as getuie geroep, wat in aanhouding is nadat hy op onbekende misdade skuldig bevind en gevonnis is.
Rosenberg het gesê Hannie, as ʼn Art. 204-staatsgetuie, sal oor voorvalle getuig waarin hy homself kan inkrimineer op misdrywe soos poging tot moord, dwelmhandel, afvuur van vuurwapens in beboude gebiede en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Indien sy getuienis eerlik en openlik is, mag hy deur die regter vrygespreek word.
LEES OOK: Barney bekla sy lot in hof oor ‘opgemaakte stories van getuies’
Hierop het Renier Pieterse, een van die regsverteenwoordigers vir die verdediging, kapsie gemaak en gesê die staat moet die beweerde misdade in besonderhede uitspel oor waar en wanneer dit na bewering gepleeg is. Dit het in ‘n aansoek dat hy nie mag getuig nie ontaard wat die staat teengestaan het. Regter Almé Stanton het toe beslis die getuie mag getuig.
Dit blyk toe egter dat Pieterse vir Hannie in ‘n ander saak in die streekhof as regsverteenwoordiger opgetree het, wat gelei het tot Rosenberg se aansoek dat Pieterse homself moet verskoon weens “botsende belange”. Hannie is van soortgelyke misdade aangekla (maar vrygespreek) waarin van die huidige beskuldigdes na bewering ook betrek was.
Dit het tot ‘n versoek na die streekhof gelei om die hofrekord van die betrokke hofsaak te bekom om verdere ondersoek na onder meer die meriete daarin te doen.
Die hofrekord is teen Maandag 10 November nog nie in sy geheel ontvang nie. Betoë sal later vandeesweek aangehoor word.
LEES OOK: Boek oor bendes geskryf


