“Life is a balancing act. While we have all the rights to be in freedom, peace, harmony and bliss; we do have a responsibility to ensure that others too enjoy their own freedom, peace, harmony and bliss.” – Vishwas Chavan

Die winterson skyn op die rugbyveld se groen gras wat al geler vertoon. ’n Koel windjie streel oor die hoë bome om die paviljoen. ’n Toeskouer wikkel sy boude op die kussing in.

Die fluitjie blaas, spelers maal op die veld, die bal word geskop en gegryp. Die spelers skreeu opdragte aan mekaar en die toeskouers jil opgewonde.

Nou en dan kom die aankondiger tussenbeide met ’n speelse opmerking. Op die kantlyn bult die reserwes se spiere in afwagting. Twee of drie van hulle warm op. Die afrigters se oë is stip die spel gerig.

Fikse kantlynregters en skeidsregters draf gemaklik saam, gelei deur die reëls en die liefde vir die spel. Reëls wat hulle uit hul koppe ken, waaroor hulle ook eksamen skryf.

Mense langs die veld spring op en af. ’n Groepie mans bondel saam teen die kantreling. Agter hulle hul vrouens wat kort-kort gillend vloek.

Die groep mans vertrap mekaar in hul haas om op en af saam met die spelers te hardloop, of belemmer ander rugbyliefhebbers se uitsig.

Die bende se gesigte is vertrek, hul neusvleuels gesper, vuiste gebal. Hulle spoeg bevele vir hul seuns uit, soos die teenstanders se bende hollende ouers aan die oorkant.

Donker wolke skuif voor die son in.

You need to be Logged In to leave a comment.