Focaccia is ’n plat oondgebakte brood, ryk in olyfolie en met ’n Italiaanse oorsprong.
Dit herinner aan ’n pizza, maar die deeg word toegelaat om te rys nadat dit in die pan platgemaak is. Pizza-deeg word onmiddellik gebak nadat dit platgemaak is.
Focaccia word ook gekenmerk aan die holtes wat met die vinger aan die bokant van die deeg gemaak word.
Die kors en onderkant van die gebakte focaccia is bros en krakerig, terwyl die sagte binnekant baie luggate bevat.
Steek jou gietyster-pan in die werk vir hierdie focaccia. Die resep is ’n basis vir enige geurkombinasie en die oornag-metode is maklik.
Genoeg vir 4 tot 6 mense.
Wat jy benodig
Die deeg:
500 g witbroodmeel
400 ml warm water
10 ml sout
2 ml kitsgis
Olyfolie vir drup
Seesout en vars gemaalde swart peper
Bolaag-opsie 1:
200 g ontpitte swart olywe
Vars knoffel, gekap
Vars roosmaryn
Bolaag-opsie 2:
Kersietamaties
Mozzarellakaas, in blokkies gesny
Basiliekruidpesto
Maak dan só
1. Berei die deeg die aand voor jy die focaccia wil bak. Voeg die meel, water, sout en gis saam in ’n groot mengbak en meng goed totdat daar geen droë meel is nie. Bedek en laat oornag op die kombuistoonbank staan om te rys.
2. Skep die volgende dag die deeg in ’n geoliede gietysterpan. Gebruik jou vingers om die deeg liggies in die pan te smeer. Strooi jou bolaag-opsie oor, bedek met ’n vadoek en laat staan vir 1 uur.
3. Voorverhit die oond tot 220 °C.
4. Bedruip die deeg mildelik met olyfolie en gebruik dan die punte van jou vingers om kuiltjies in die deeg te druk. Plaas die pan in die oond en bak vir 25 tot 30 minute.
5. Verwyder die pan uit die oond, bedruip die focaccia met nog olyfolie en geur met sout en peper. Laat effens afkoel voor dit in skywe gesny en bedien word.
– Netwerk24


