Bagasie kan só eindpunt veilig bereik

Die meeste mense reis aan die begin van ’n jaar – hetsy om ná ’n vakansie terug te keer huis toe, of om terug te gaan na ’n werk, skoolkoshuis of universiteit weg van die huis.


Die meeste mense reis aan die begin van ’n jaar – hetsy om ná ’n vakansie terug te keer huis toe, of om terug te gaan na ’n werk, skoolkoshuis of universiteit weg van die huis.

Dit veroorsaak dat duisende mense lughawens, treinstasies, bushaltes en hawens gebruik.

Die versekeringsmaatskappy Virseker maan verbruikers om versigtig te wees en ekstra voorsorg te tref.

“Min dinge plaas meer van ’n demper op jou nuwejaars­beplanning as wanneer jy by jou bestemming aankom en uitvind dat jou sak of tas gestroop of gesteel en jou kosbare besittings verlore is,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker.

Virseker bied ’n paar wenke om bagasie minder van ’n teiken te maak.

Voordat jy vertrek

  • Kies verantwoordelik. Wees selektief oor watter artikels jy met jou saamneem. As jy nie die duur paar tekkies, horlosie, baadjie of toestel gaan gebruik nie, los dit eerder tuis.
  • Pak slim. Bagasiestropers het beperkte tyd om jou tas oop te kry en te neem wat hulle kan, so plaas die minder belangrike of waardevolle artikels heel bo.
  • Belê in bagasie met goeie sekuriteitskenmerke, soos kombinasieslotte. Dink daaraan om tasse met geheime kompartemente te koop, wat dit moeiliker maak vir diewe om by waardevolle artikels uit te kom.
  • Hou waardevolle artikels soos skootrekenaars, kameras, juweliersware en kredietkaarte by jou.
  • Misdadigers kan maklik ongesiens met jou tas verdwyn wanneer dit soos ander lyk, so maak seker dat jou tas tussen ander uitstaan. ’n Eenvoudige helder lint om die handvatsel kan dié taak verrig.
  • Maak seker dat jou besonderhede – en dié van ’n vertroueling – aan die binne- en buitekant van jou tas verskyn. Dit maak dit makliker om te bewys dat dit joune is en makliker vir dié wat dit vind of opspoor om jou te kontak.

By die lughawe, stasie of bushalte

  • Ritssluiters wat gesluit is en kabelbinders bied goeie sekuriteit en sal help om misdadigers af te sit.
  • Hou altyd jou bagasie onder oë en wees op die uitkyk vir verdagte individue. Diewe het net ’n sekonde of twee nodig om met jou tas te verdwyn.
  • Moet nooit jou bagasie aan iemand toevertrou voordat jy deeglik seker gemaak het dat hulle ’n verteenwoordiger van ’n vertrouenswaardige verskaffer is nie.
  • Vermy dit om jou tas of sak oop te maak en te onthul wat binne-in is. Wanneer jy dit moet oopmaak, soos wanneer ’n sekuriteitsbeampte jou vra, doen dit vinnig en maak dit onmiddellik weer toe.
  • Moenie jou tasse te vroeg inteken nie. Dit gee aan misdadigers meer tyd om ondersoek in te stel en hul hande op jou besittings te kry.
  • Kom so gou moontlik by die afhaalpunt met bagasie uit om te vermy dat joune onwelkome aandag trek.
  • Neem foto’s van jou bagasie voordat jy dit inteken. Indien daar by jou bestemming enige probleme met jou bagasie is, kan bewyse van hoe dit gelyk het jou in staat stel om die probleem dadelik te begin oplos.

You need to be Logged In to leave a comment.