By die Hoërskool Adamantia is van links André de Kock (hoof), dr. Andries Daniels en Linetta Klaasen (adjunkhoof).

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

’n Oudleerling van die Hoërskool Adamantia in Kimberley het in 2000 aan dié skool gematrikuleer met die voorneme om medies te studeer.

Min het dr. Andries Daniels, ’n gebore Kimberliet, geweet dat die “dr.” wat tans voor sy naam geskryf word vir ’n doktorsgraad in wingerdkunde sou wees.

Ná skool het Daniels met sy BSc-voorgraadse studie in menslike lewenswetenskap aan Universiteit Stellenbosch (US) begin met die hoop om keuring vir medies te ontvang. Dit het egter nie gebeur nie.

Intussen het die Wyn- en Spiritusraad hom ’n beurs aangebied, en in 2005 het hy sy eerste graad in wingerd- en wynkunde verwerf.

In 2008 het hy ’n honneursgraad in BScAgric wingerdkunde verwerf, gevolg deur die verwerwing van sy meestersgraad in wingerdkunde in 2013.

Verlede jaar, tydens die Covid-19-pandemie, het Daniels sy doktorsgraad in wingerdkunde verwerf.

Tydens sy studie het hy deursettingsvermoë en hardwerkendheid getoon deur in die aande as nagwag by die universiteit se kunsgebou te werk om ’n geldelike bydrae vir sy studiekoste te maak en vir sy familie te sorg.

Sy ma, Agnes Daniels, wat ’n enkelouer en deeltydse huishulp was, het ’n prominente rol in sy sukses gespeel.

Daniels het die afgelope jare verskeie eerbewyse verower.

Hy lewer gereeld praatjies op RSG om die rosyntjie-kultivar Sundowner te bevorder en het al verskeie artikels in akademiese tydskrifte publiseer.

Boonop het hy al op verskeie TV-programme verskyn, waar sy werk met die evaluering van nuwe tafel- en rosyndruif-kultivars en seleksies gedeel is.

Daniels tree ook as akademiese moderator by die departement van wingerdkunde aan die US op. Hy dien in verskeie komitees en is by talle projekte in die landbou-sektor betrokke waar hy noodsaaklike insette ten opsigte van druiwe, die produk van wingerde, lewer.

Van sy werk behels om wiskundigemodelle te skryf waarmee die gehalte van tafeldruiwe bepaal word.

In 2021 het hy die gesogte eerbewys as die Noord-Kaap se landboukundige van die jaar, toegeken deur Landbouskrywers SA, ontvang.

Hy is ook ’n navorser betreffende tafel-, droog- en wyndruiwe in die afdeling gewasontwikkeling van die Landbou­navorsingsraad.

Daniels woon in die Strand in die Wes-Kaap.

In die lig van bogenoemde het Adamantia Daniels met die Witbaadjie-eerbewys vir uitmuntende naskoolse akademiese prestasie vereer.

Hy is op die jaarlikse prysuitdelinggeleentheid op 18 Oktober by die skool vereer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article